Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Gee elke dag vir mekaar blomme

As dit vir ons voel of die lewe veilig is en op ’n vaste bodem rus, is dit maar ’n illusie! In weerwil daarvan wil elkeen lewe en strewe asof ons in ewigheid gaan lewe. Ons is maar ’n tydelike “verskynsel” op die aarde!

Ons lees en hoor daagliks in die media van familielede, bekendes en onbekendes wat rondom ons lewe, se skielike en onverwagte afsterwe. Elkeen se lewe is so breekbaar, so kwesbaar. Dit kan enige dag deur enkele gebeurtenisse heeltemal uit sy voeë geruk word. Die rustige lewenspatroon kan binne enkele minute vernietig word.

Solank ons vriende, familie, huis- en geesgenote in gesondheid en voorspoed by ons is, word hulle as vanselfsprekend aanvaar. Eers wanneer ’n onverwagte verandering intree, soos die dood, word ons uit dié toestand van afgestompte saamleef geruk. Daar is ons in een opsig dieselfde: Dit wat ons nie meer besit nie, mis ons die meeste. Dit wat onherroeplik verlore gegaan het, het ons die liefste.

Dit verg die dood om oë vir ewig te sluit en om oë te open. Niks anders plaas so ’n groot premie op die mens se persoonlikheid as die dood nie. Skielik by die graf ontdek ons watter groot gees van ons weggeneem is. Dan wedywer ons om sy lof te besing. En die enigste “wese” vir wie dié lofuitinge iets kon beteken, is nie teenwoordig om daardeur geroer te word nie.

Oral in die gemeenskap, huis- en familiekring is daar “wonderlike mense”, “groot geeste”, oor wie niemand ooit praat nie. Wanneer ons dan die blomme en ruikers wat hy in die lewe so graag sou wou ontvang het, op die graf gaan neerlê, besef ons dié waarheid: In die lewe het ek jou te min liefgehad, in die dood te veel. Ons gee te min “blomme” terwyl ons leef, te min “ruikers” van vriendelikheid, van opregte waardering vir daaglikse sleurwerk, van aanmoediging vir grys, vaal dae wanneer alles verkeerd loop. Kom ons gee, elke dag, vir mekaar blomme!

Meer oor:  Blomme  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.