Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Geen antwoorde by die kruis of oop graf

Ek lees met deernis in Standpunt (16.02) van Anton van Niekerk dat geloof deel is van sy menswees. Ek sê “met deernis” omdat byna alle Afrikaanssprekendes met “geloof” grootgeword het en dit soms met baie moeite moes afskud. Ek het drie probleme met sy standpunt:

Eerstens het ek ’n probleem daarmee dat hy aanvoer dat hy nog nooit oortuig kon word van die idee dat alles wat ons kan weet in die wetenskap opgesluit is nie. Ek dink nie enige nugterdenkende mens argumenteer dat die wetenskap nou of in die toekoms alle antwoorde vir ons bestaan kan bied nie.

Ek gee toe, nee, ek stem saam, dat die wetenskap nie ’n “monopolie op betroubare kennis” het nie. Dit weet ons reeds uit talle kwantum-probleem-voorbeelde. Kom ons soek dan saam na ander bronne van betroubare kennis, maar kom ons flous nie mekaar dat geloof so ’n bron is nie.

Geloof, en veral geloof in ’n “kruis” en “oop graf” is in ’n keuse van ’n bepaalde wêreldbeskouing gefundeer. Dis nie objektief nie en dit bring ons niks nader aan betroubare kennis nie. Ons kan nie antwoorde op vrae kies omdat dit ons laat goed “voel” nie.

Tweedens het ek ’n probleem daarmee dat gelowiges op hul beurt weer eienaarskap toeëien vir wat Van Niekerk eksistensiële kennis of “kennis van die hart” noem. (Ek hoop ek verstaan hom reg en dat hy met die onderskeid tussen “objektiewe kennis” en “eksistensiële kennis” dieselfde meen as wat Rudolf Bultmann bedoel wanneer hy oor “glo” en “verstaan” praat.) Hierby sluit hulle dan gewoonlik wonder, misterie en sin in; en op die koop toe, die besondere lae hou, moraliteit ook.

Niegelowiges, soos ek en my broers en susters, het ook eksistensiële vrae. Ons verwonder ons aan ’n sonsopkoms oor die vlaktes van die Karoo, die mooiste stukke van Beethoven, en die glinstering in ons kinders se oë wanneer hulle iets nuuts ontdek. Ons erken die diep misteries van ons eie menswees, die oorsprong van die heelal en die werking van die kwantum.

Ons “glo” dus ook. Ons vind net geen eksistensiële antwoorde by die kruis en oop graf nie. Ek sou dus versigtig wees om soos Van Niekerk te sê dat die strewe na eksistensiële kennis in geloof, hoe hy dit ook al bedoel, plaasvind.

Derdens, as ons aanvaar dat die wetenskap nie ’n monopolie op betroubare kennis het nie en dat ons menslikheidservaring deurweek is met eksistensiële vrae, hoekom dan die “antwoorde” by hierdie spesifieke geloofsoortuiging gaan soek? Is dit nie nou al duidelik dat godsdienste sosiologies kulturele verskynsels en nie universele oortuigings is nie.

Aanvaar ons dat eksistensiële vrae ewe goed beantwoord kan word uit die Koran en die Bybel? Is die antwoorde wat die kruis en oop graf bied universeel waar? Dis moontlik nie eens histories waar nie. Of is dit aanvaarbaar dat ek my eksistensiële antwoorde by enige altaar kan opspoor? Ek dink so ’n gedagte laat verval ons in ’n spiraal van relativisme verder verwyderd van enige soeke na waarheid en kennis.

  • Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.
Meer oor:  Paarl  |  Briewe  |  Mystem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.