Ek verwys na Elmarie Dercksen se rubriek “ ’n Regtig verlore generasie in SA?” (07.02). Ek weet nie of sy iets by die lesers probeer tuisbring nie: Dat sy vir ’n M.Th by Stellenbosch ingeskryf het en/of op ringsittings sit, sodat haar opinie as gesaghebbend beskou kan word? Hoekom wil ons dié besonderhede weet?
Wat vir my egter uitstaan, is dat sy ’n passie het. Dit beteken dat ’n vuur in haar hart brand, ’n begeerte/drang/verlange opwel na haar swart en bruin broers en susters wat ook die Here Jesus aanbid. Maar volgens haar het haar land vir haar “ . . . geen meganismes gelaat om hulle op te soek nie” (?) en “die nalatenskap van apartheid verseker dat ons steeds apart woon en grootliks apart leef, al dien ons dieselfde Here”.
Wat ek nie kan begryp nie, is hoe die land vir haar geen meganisme (?) gelaat het om hulle op te soek nie? Wat moes die land gedoen het? Watter beter meganisme is daar vir iemand as om hulle op te soek en om na hulle te gaan? “Gaan dan heen . . .” sê Jesus. Hoekom moet ons land dan vir ons meganismes gee om na ander uit te reik? Dat ons steeds apart woon en apart leef, is vir niemand ’n verskoning om na ander groepe uit te reik nie. Ons doen dit daagliks – in huise, in skole, op universiteite, in werksplekke, oral. Baie goeie verhoudings word so opgebou. Geen rede bestaan om ’n verlore generasie te wees nie, want daar bestaan ’n legio geleenthede om ’n verskil in ander se lewens te maak.
Ek het vroeg in my lewe geleer dat die lewe (my land/mense) my niks skuld nie, maar dat ek die lewe álles skuld.