Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Geliefde taal deur ons eie mense vernietig

Ek los die blou van die Atlantiese Oseaan­ vir ’n wyle en ry Kaap toe. Die liefde vir my land, Suid-Afrika, bruis deur my are. Koringlande en blou berge onder wit malende wolkemassas.

Afrikaans klink alom op. Van Elandsbaai, deur Piketberg tot in Malmesbury­. My taal, Afrikaans, van sy wankelrige ontstaan ontwikkel en gegroei tot volwaardige kommunikasie tussen sy praters. Veilig en geborge soos in die Grondwet vervat.

“Twee koffies, asseblief, dame.” “Plesier, meneer. En veilig ry,” sing my hartstaal in my ore.

Dis wel met ’n mate van ambivalensie dat ek oor die N1 ry en Stellenbosch nader. My alma mater, die bakermat van my taal, besig om die langloopsannas te olie. Glashelder in my geheue: Tollies, my elmboë op die toonbank. “Gesondheid!” Onder Die Laan se eikebome het ons die meisies suksesvol geleer om hul predikate op te stoot – in Afrikaans.

My ou koshuis is ’n museum. Die Ou Hoofgebou het nog nie sy statigheid verloor nie. Hoeveel dekades het my pragtige taal nie daar van die hoë mure­ weergalm nie? In der waarheid ten volle gestalte gekry. Van die oorspronklike tot in sy huidige sprankelende en wetenskaplike vorm.

Maar alles verniet. Die paradoksale filosofie van die akademici slaan my tussen die oë. Sinnelose retoriek, warm lug en lippediens. “Ons moet ons taal vir nageslagte bewaar”, maar die rektor en sy adjudante trek self die sneller. Die “geliefde taal” in klaskamers en raadsale verban.

Die akademiese voedingsbasis van al sy praters in die Boland tot ver agter in die Boesmanland deur ons eie mense vernietig. Ek ry verder en druk my duime blou vir ’n wonderwerk.

Ek stop by ’n kafee en gaan sit. “Koffie, asseblief, dame.” “Black or white?” kry my wonderwerk die doodskoot.

Meer oor:  Afrikaans  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.