Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
GK Krugersdorp kon vroue nie langer uit hou

Kerke se sake moet op ’n kerklike wyse hanteer word (en nie in die pers nie).

Daarom reageer ek nie hier op die Wes-Rand-klassis se optrede teenoor ons (Gereformeerde kerk Krugersdorp) nie.

Wanneer daar in die wêreld beweer word dat ons gemeente ongehoorsaam is aan God se woord, kan ek nie daaroor stilbly nie.

Ons gehoorsaam wel die woord van God en dit met toewyding.

Ons gehoorsaam wel nie bepaalde menslike interpretasies van die woord van God wat teen goeie eksegese en ons gewete indruis nie. Ons buig voor God – nie voor mense nie. 1 Tim. 2:12 (die verbod op leer en regeer) maak deel uit van minstens ses voorskrifte aan vroue in vers 9-11.

Hieronder val die verbod op gevlegte hare, goud en pêrels en die opdrag tot goeie werke. Al hierdie voorskrifte word met dieselfde gesag deur dieselfde persoon in dieselfde grammatikale konstruksies en in dieselfde perikoop aan dieselfde mense gerig. Wanneer ons eerlik en met integriteit optree, kan hierdie voorskrifte in die eksegese nie in isolasie van mekaar behandel word nie. Daar moet konsekwentheid wees – ook in die toepassing daarvan – sowel binne as buite die kerk. Die dekade lange eensydige aksent op net een van hierdie voorskrifte aan vroue en die selektiewe toepassing daarvan net op die ampte deur ’n sinode van slegs mans terwyl die res van die voorskrifte geïgnoreer word, kan na ons mening nie gehandhaaf word nie.

Die Gereformeerde kerk Krugersdorp­ het meer as tien jaar lank daaroor gestudeer en besware ingedien. In afwagting van antwoorde het ons in dié tyd nie vroue bevestig nie. Toe die sinode ná al die tyd ons by herhaling nie oortuigende antwoorde uit die Skrif kon gee nie en ons medestanders se besware nie langer aangehoor is nie, kon ons in ons gewete voor God nie langer begaafde vroue uit die amp weer nie.

Die Skrif verbied dit nêrens nie. Hulle is bevestig en die Heilige Gees seën hul werk met groot vrug. Ons respekteer die sinode en is eenstemmig met al sy ander besluite, maar kan dit in hierdie enkele geval nie doen nie.

Het 1 Tim. 2 dan nog gesag?

Die vraag was vir ons nooit of dit gesag het nie, maar hoe dit gesag het. Die genoemde voorskrifte volg duidelik op (en is diensbaar aan) Paulus se uitspraak dat dit die wil van God is om alle mense te red (1 Tim. 2:3).

Paulus self sê elders hy is daarvoor bereid om vir die Jode ’n Jood en vir almal alles te word (kultureel aan te pas; 1 Kor. 9:20-23). Sy voorskrifte (1 Tim. 2:8-12) beskryf dus hoe gelowige mans en vroue in die Efese van ongeveer 62 n.C. moet optree om geloofwaardige getuies van die evangelie te wees en mense te red.

Wie mooi nadink, sal insien dat gelowiges vandag ook maar aan sekere gedragsreëls in die samelewing voldoen ter wille van die verkondiging van die evangelie.

Om vroue met die nodige gawes nog langer uit die amp te weer, is na ons oortuiging nie deel daarvan nie.

Meer oor:  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.