Pres. Cyril Ramaphosa en sy raadgewers is nou so opgewonde oor die trauma-eenhede wat leegstaan dat hulle die groter prentjie totaal buite rekening laat.
Sy inperking op die drankbedryf veroorsaak oneindige trauma vir baie gesinne. Het hulle enige idee hoe traumaties dit vir ’n broodwinner is om skielik sonder ’n inkomste te sit?
Wie betaal sy huishuur? Wie verduidelik aan sy vrou en kinders waarom daar nie geld vir kos, skoolklere, skoolgeld, huispaaiemente, ensovoorts is nie?
Hierdie trauma veroorsaak spanning in die gesin, wat kan lei tot geweld teenoor vroue en kinders – iets waaroor die president glo baie bekommerd is.
Hierdie besluitnemers leef in weelde en kry vet salarisse, maar is totaal uit voeling met die werklikheid. Het hul kinders of familie al hul werk verloor? Ons regering het al soveel goed in ons land vernietig deur swak bestuur, nou vernietig hy die drankbedryf ook.
(Net vir die rekord, ek is ’n geheelonthouer, maar het empatie met mense wat sonder werk sit.)