Die herverskyning van Helen Zille lei die verdwyning van die DA in.
Dis altyd tragies as mense groter word as die saak en hul eie nalatenskap vernietig.
Politieke vernuf is nie gelyk aan intellek nie. Die Duitsers het ’n goeie beskrywing: “Politische Fingerspitzengefühl” – ’n politieke aanvoeling in jou vingerpunte. Sommige politici het dit eenvoudig nie.
Ek was van meet af aan erg krities oor Zille se twiets oor kolonialisme – dís waar sy en nou ook die DA begin het om koers en aansluiting by ’n groot deel van hul kiesers te verloor. Die werklike wenner in dié fiasko is die ANC.
Opposisiepartye het baljaar toe hulle oudpres. Jacob Zuma teengestaan het en tereg ook. Sedert pres. Cyril Ramaphosa Zuma vervang het, is hulle wel sonder rigting en werklike visie.
Ek kan nie sien hoe die DA die verlore grond kan herwin nie. Dalk is dit tyd vir ’n herrangskikking van die politieke landskap. Daar is ruimte vir ’n werklik inklusiewe party en dalk vir nuwe koalisies oor partygrense heen.