Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Help! My broer is in Helen Joseph

My broer, ’n tipe 1-diabeet, lê in die Helen Joseph-hospitaal.

Hy was eers vyf dae lank in die Sebokeng-hospitaal, waar hy vir diabetes, ’n breuk en ’n maagseer behandel is. Sy toestand het vreeslik versleg en hy was verswak. Die verpleegpersoneel het van hom verwag om self kleed­kamer toe te stap en het geweier om hom te help.

Ons familie het toe besluit om hom liewer na die Helen Joseph-hospitaal te bring vir ’n tweede mening, waar bevind is sy blindederm het gebars en hy het dringend ’n operasie nodig. Die diens wat hy in Saal 9 ontvang het, was ongelooflik. Die verpleegsters was so vriendelik en behulpsaam en ál die pasiënte is met die grootste deernis versorg. Ons was aangenaam verras ná al die gruwelstories wat ons al oor die hospitaal gehoor het.

Hy is ongelukkig ná sy operasie na Saal 18 verskuif om te herstel en dit is, op sy sagste gesê, hel. Hy verduur heeltyd pyn en eet nou al 11 dae lank niks. Hy ontvang ook die afgelope twee dae geen binneaarse voeding nie. My broer is sterwend en niemand help hom nie. As diabeet het hy spesiale behandeling nodig en neem hy langer om te herstel ná operasies.

Hy het kos nodig. Ons wag nou al drie dae op ’n dieetkundige en spesialis om hom te sien. Sy wonddekking is ook die afgelope drie dae nie omgeruil nie en weens die sterk antibiotika het hy nou begin braak, wat veroorsaak dat sy wond bloei. Die verpleegpersoneel in Saal 18 help geen pasiënte nie. Die mense roep om hulp, maar dis om dowe neute.

Daar is ’n hemipleeg in die saal, maar die verpleegpersoneel verwag van hom om self regop te sit. Dit is uiters ontstellend, want die rol van verpleegpersoneel was tradisioneel om na siek, verswakte en sterwende mense om te sien. Nou lyk dit of hulle bloot ’n werk doen om ’n salaris te verdien en geen passie of gevoel in hul harte het nie.

Ek smeek enigiemand by die hospitaal om ondersoek in te stel. My broer het dringend hulp nodig, anders gaan hy sterf. Hy is net 36 jaar oud.

Helen Joseph se uitvoerende hoof sê:

Dr. M.R. Billa, uitvoerende hoof van die Helen Joseph-hospitaal: 

Ek het dr. Sehularo Gaelejwe, kliniekbestuurder van chirurgie, opdrag gegee om die bewerings te ondersoek. Hy het bevind:

  • Mnr. Van Rhyn het van die Sebokeng-hospitaal af by ons aangekom nadat sy blindederm gebars het;
  • Hy is dadelik behandel;
  • Hy is pynmedisyne gegee wat ’n pasiënt kan laat braak. 
  • Ander medisyne, wat hom nie laat braak nie, is later gegee en hy braak nie meer nie;
  • Mnr. Van Rhyn sê self hy sterk goed aan; 
  • Hy is ingelig dat verpleegsters en dokters hom sal bystaan en hy vir dr. Gaelejwe self vra as hy voel hy kry nie sorg nie;
  • Dr. Gaelejwe het aan verpleegsters gesê om nie aanstoot te neem oor die bewerings deur mnr. Van Rhyn se suster nie;
  • As die suster weer mnr. Van Rhyn besoek, kan sy met ’n senior matrone gesels;
  • Dr. Gaelejwe raai aan dat klagtes regstreeks van mnr. Van Rhyn aangehoor word en dié van sy suster kan op skrif aan bestuurders gerig word; 
  • Dr. Mbaya, die chirurg, het al die suster se vrae beantwoord, maar sy was ontevrede daaroor; ) Dr. Mbaya sal ’n volledige verslag verskaf.


Meer oor:  Mystem  |  Lesersbrief  |  Diabetes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.