Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Hiënas wil net nie ophou lag nie

In daardie fenomenale rolprent The Lion in Winter sê Katharine Hepburn aan Peter O’Toole as Henry II, koning van Engeland: “We are still jungle creatures, Henry.” Sy grynslag. “You and me, we.”

Dit het daar gegaan oor ’n buitengewoon moeilike jaar vir die Engelse koningshuis in 1183. Dit kon net so aaklig gewees het in die 1880’s tussen die Boere en die Engelse toe goud en diamante in Suider-Afrika ’n orgasme geraak het. Die “naturellevraagstuk” was uit ’n magsposisie nie ter sake nie. Dit het oor muwwe eendimensionele mag en geld gegaan.

Dit is nou 2020. Ons het ’n klomp oorloë agter die rug waarin lande mekaar met gewere en kanonne aangevat het, waarin massas jong manne met bloed en derms in loopgrawe rukkend, stukkend gesterf het vir ’n “saak” oor magsidentiteit. ’n “Saak” wat dekades of wat later in ’n ander kleur en geur op strak oorlogvelde mense se dood opnuut veroorsaak het. Mag die gode ons almal bloot vergeet. Vergewe is waarskynlik moeilik moontlik.

Die wiel van evolusionêre noodwendighede draai. Altyd. Deurentyd. Die mense wat nie in tel was nie, moes lank wag, maar hul dag het gekom om die beheer te neem. “Times always tilt, and then damn, it does it again. And again.”

Maar die Here hoor, ons is oerwoudskepsels. Ons is ego-gekondisioneerd. Ego-bedonnerd. Of ons velle wit of swart is, onse siele sukkel om anderkant klotselbloeddenke uit te kom.

Darwin mag maar so hard as wat hy wil uit sy graf baklei, maar ons het hom half gehoor. Baie jare later het George Price hom ’n matematiese basis gegee. Altruïsme (die Ingelse praat van inherente kindness) kom nie van vandag af nie. Die voorvaders, wurms en lyfvarings, bokke het al vir samesyn begin pleit. Om nie net vir jouself nie, maar vir ander met jou hart en jou wese, en jou essensie, om te gee. Buite kerk en stamverband.

Liewe leser, hou ’n kalmeerpil byderhand. Kapitalisme, geskoei op ekstreme individualisme, die najaag van karre, huise, vakansies en mooier wasmasjiene, gaan nie die pas volhou nie. Die atmosfeer begin te verstik aan oppervlakkige gasse, en die nagelate mense wat nie deel het aan hierdie oppervlakkige plesierighede nie, en wat bewus is van getallemeerderwarigheid, húlle gaan nie gelate terug bediendekamers toe gaan nie.

Die dilemma is egter, pynlik ongelukkig so, dat diegene wat die mag verkry het nadat die verlede se verskriklike menslike verraad oorkom was, nie die paradigmatiese oomblik van omswaai gebruik om ’n wesentlik menslike samelewing tot stand te bring nie. Persoonlike genot het soos ’n prostituut gewetenloos verruklik gewag.

Mag is weer eens misbruik om ’n nuwe verkose groep te bevoordeel, ten koste van alle mense wat wyd na ’n nuwe lewe verlang het, ten koste van die opbou van ’n organies-gesonde sosiaal-demokratiese samelewing – die enigste vorm van saambestaan wat kan werk.

‘We are still jungle creatures, Henry.” Here, my hart huil vir die swaarkry van mense wat nooit in tel kom nie. Vir ewig rasloos. Klasloos. Eintlik mensloos. Solipsisme en gierigheid se gesamentlike naam bly ’n grinnikkende afgod. Hiënas wil net nie ophou lag nie. Wit hïenas, en swart hiënas, se harte lyk dieselfde. Ons menslike passiwiteit bly werk vir hulle. Toe. Nou ook weer. Variasies van misbruik wag vir vlak lekkerte.

Net een ding, Katharine, kan werk. Om ander mense in die oë te kan kyk en slegs snoesig lekker te kan slaap as jy weet die mense aan daardie kant het vanaand kos, lopende water, ’n eie toilet, ’n warm bed en verwonderde hoop vir die moontlikheid van ’n werklik menslike bestaan. En dat hulle almal veilig is. Soos wat hulle glimlag as hulle begin te slaap.

Net so, Katharine.

Meer oor:  Hiënas  |  Lag  |  Brief  |  Ophou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.