Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Hier deel polisie in buit of trek net hul skouers op

Krisistye bring die beste en die slegste in mense na vore. Dis ons ervaring sedert verlede week.

Port Edward, die vakansiedorpie op die grens van die voormalige Transkei en KwaZulu-Natal, is geen vreemdeling vir gewelddadige protes nie. In die laaste maande brand bande op die R61 gereeld soos inwoners uit Gamalakhe en iTongazi protesteer oor swak dienslewering, veral swak paaie en die owerhede se onvermoë om water te verskaf.

Geen wonder nie dus dat dieselfde brigade die aansporing om te plunder en chaos te saai, omhels het en noodwendig honderde ander inwoners op hul plundertog saamgesleep het.

Soos oral hier langs die Suidkus het inwoners van Port Edward, Leisure Bay en Munster aangetree om die gebied te beveilig.

Groepies mans uit alle dele van die samelewing staan dag en nag by die belangrike toegangsroetes. ’n Gevoel van samehorigheid het gou opgebou en so kon een groepie saam bly wees toe een lid se eersteling, ’n dogtertjie, gisteroggend in die voormalige Transkei gebore is. Maar eweneens het magtelose woede hulle beetgepak elke keer wanneer hulle ’n blinknuwe, spoggerige viertrekvoertuig stop, net om die voertuig volgeprop met buit te vind. Die bevelvoerder van die polisie word elke keer ontbied, maar hy is in Pontius Pilatus-modus: Sy hande “is afgekap”. So word buiters met ’n vriendelike wuif toegelaat om sonder slag of stoot voort te reis.

In die voormalige townships staan lojale inwoners stomverbaas wanneer ’n man, een van “ons kerk se mense!” met sy trok vol kos en elektriese toebehore sy buit kom smous.

Ons huiswerkers berig verbitterd hoe polisie deel in buit of net met ’n skouerophaal die oortreders toelaat om hul ware te verkwansel.

Donderdagmiddag is lede van die weermag met groot vreugde verwelkom. Gisteraand, toe ’n groep (weerlose en ongewapende) buurtwaglede dieselfde bevelvoerder versoek om darem een weermaglid aan hulle vir die nagskof te leen, is hulle meegedeel dat die brose soldate bitter ver van Mthatha gereis het, absoluut pootuit-gedaan is en knus in hul beddens in die vakansieoord waar hulle tuisgaan, uitrus.

Dit was om 22:00. Dieselfde manne leef ook nie meer op “rat packs” nie. Die gemeenskap moet hulle voer.

Ons is darem nie almal so nie. Waar ons geduldig (twee uur lank) in ’n tou staan om die laaste verlepte rape en verloopte pakkie suiker te koop, is mense geduldig, vrolik en vrygewig. Was jy te laat om ’n boksie melk te kry, gee ’n gulhartige buurvrou jou een van hare. En ander pas jou trollie op terwyl jy verder soek vir ’n weggesteekte plak sjokolade.

Meer oor:  Polisie  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.