Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Hier is iets waarop elke skool trots kan wees

Die Hoërskool Pearson in Port Elizabeth behoort met die aanbieding van sy voortreflike kabaret Kô, lat ons sing gelukgewens te word. Dit is geskoei op Adam Small se Kô, lat ons sing en met Suid-Afrika se oudste en grootste treffers aangepas!

Terwyl ek in die saal sit en alles op die verhoog gadeslaan, dink ek aan skole wat die laaste tyd deur groot hartseer is: dood, swak gedrag, uitbarstings van woedebuie en die amptenare van die departement van onderwys wat rondhardloop met hul spreek-woordelike hande in die hare.

Kort-kort is daar nog ’n verklaring van die minister van onderwys of ’n onderwysersunie en hier sit ons in ’n vol saal en leerlinge van verskillende agtergrond vermaak ons.

Watter skoolhoof sal nie sy voortande gee vir soveel normaliteit nie, soveel rustigheid en uitbundigheid binne die konteks wanneer leerlinge hul talente deel en bowenal uiters bekwame onderwysers wat hul tyd en bekwaamheid gee ten einde só ’n produk op die planke te bring. Die uniekheid van geen dekor moet ek beklemtoon!

Ek het vir myself uitgewerk:

  • oudisies is gehou om die meer as 30 spelers te kies;
  • die skool het ’n uitstekende dissiplinêre stelsel – ek is doodseker as die kwalifikasie “boelie” om ’n leerling se nek hang, sal hy nie by die oudisie oorweeg word nie; en
  • die groep het in hul vrye tyd geoefen – nie in verkorte periodes of die skool wat soggens later begin of smiddae vroeër sluit nie. Die gewone buitemuurse rooster het voortgegaan. Geen wedstryde is af- of uitgestel nie. Koor- en orkeskampe is gehou, want dit is dáár waar die repertoire ingeoefen word. Vrye tyd was op ’n Saterdag en ’n Sondag tussen kerk en katkisasie, vakansiedae en ek weet nie waar nog ure uitgehaal is nie, maar beslis nie uit die skool se program nie.

Die genot om die leerlinge te kon sien optree, was ongelooflik aangenaam. Wat baie interessant is, is dat daar nie ’n hamer of ’n spyker naby die verhoog was nie. Die inkleding op die verhoog was deur middel van die beligting, die feit dat al die leerlinge in swart geklee was, en begelei deur die fenomenale orkes wat deur die musiekpersoneel saamgestel is.

Ek moet melding maak van die seuns wanneer hulle ’n solo moes sing. Tradisioneel sukkel die seuns om die hoë note mooi rond te sing, maar almal het perfek gesing (totdat ek mej. Terry-Ann Julies gesien het!).

Pieter Rademeyer, onderhoof en regisseur, saam met sy hele span kan baie goed voel. U het ’n enorme taak aangepak, maar met vernuf, kreatiwiteit en oorspronklikheid ’n skitterende aanbieding vir ons voorgesit.

Hartlik geluk!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.