Dit het te duur geword om die ANC-regering met sy korrupsie-omset, onbevoegdheid, werkskuheid en -skaarsste aan goeie norme en waardes te onderhou.
As gekyk word na die miljarde wat sedert 1994 in bodemlose sakke verdwyn het, moet die ANC-alliansie die duurste regering op dese aardbodem wees.
Die stelery kry net nie end nie, en etiek ontwikkel nie oornag nie, want die gebruik om die land se geld te verdoesel is te diep gesetel. Dis nou endemies.
Nuwelinge tot die stelsel skakel naatloos in by die gevestigde praktyke en sien nie meer diefstal van die staat as ’n misdaad nie.
Chinua Achebe, bekroonde skrywer van Nigerië, het na aanleiding van wegholkorrupsie in sy land gesê daar is niks verkeerd met die land, sy klimaat en sy hulpbronne nie, maar die diefstal van staatsgeld word nie as ’n misdaad beskou nie. En dis die dood in die pot.
Dit is die geval by ons en net genadelose optrede teen korruptes en hopelik ’n verandering van regering sal die verderflike praktyk beteuel of dalk stopsit.