Ek is teleurgesteld omdat die week van rou wat ons president afgekondig het (25 tot 29 November) nie die nodige aandag kry wat dit verdien nie.
Dit is opmerklik, tensy ek verkeerd gekyk het, dat daar in die hoofstroommedia geen berig was oor die noodsaak, beweegrede en sin van ’n week van rou nie. Die laaste inskrywing wat ek op die internet vind, is die dag ná pres. Cyril Ramaphosa die saak op die tafel geplaas het.
Covid-19 het ons lewensgang drasties beïnvloed. Die uitwerking daarvan sal nog vir jare gevoel word. Die groot gemis, verlange en hartseer by families wat geliefdes verloor het verdien ’n mate van gemeenskaplike meegevoel. As ek die president reg verstaan het, sal vlae in hierdie week halfstok hang. Burgers is gevra om swart armbande te dra om ’n gemeenskaplike belewenis van hartseer te onderstreep.
Die week van rou hou ook verband met die pyn wat vroue in ons samelewing ervaar. Geslagsgeweld is ’n klad op ons Christelike getuienis. Ongelukkig is ons klaarblyklik net te besig om innerlik tot verhaal te kom.
Advertensies oor Swart Vrydag trek ’n mens se aandag na die volgende winskopie. Die interessanthede by die Zondo-kommissie, hoe belangrik ook al, bevestig ons beheptheid met nuusgebeure. Gebeure in Brackenfell het ons fokus gekaap.
Ons is vies, kwaad, opstandig en selfs bitter, maar nie hartseer nie. Hartseer oor ons eie en ander se gebrek aan medemenslikheid.
Ek weet ek veralgemeen en miskien sien ek net nie die tekens van ’n nasie wat rou raak nie. ’n Mens sou kon verwag dat die media betekenisvol inkoop op die president se oproep.
Wat sê ons onbetrokkenheid en klaarblyklike onwilligheid om tot stilstand te kom van ons samelewing?
Ja, elke mens besluit hoe en waar hy by geleenthede betrokke wil wees. Vergewe daarom as ek aanstoot gee, maar my hart hang hierdie week halfstok.