Theo Stehle, Knysna, skryf: Mens hoor herhaaldelik dat Eskom intern geherstruktureer sal word en dat alles sal regkom. Let wel, dít, sonder om die arbeidsmag met ’n derde in te kort of sonder om die steenkoolkontrakte drasties te hersien.
Hardkoppig en blind vir die fiskale afgrond wat voorlê, word daar volgehou met ’n verset binne die ANC en die kabinet teen ontbondeling en privatisering, asook die desentralisering en diversifisering van kragopwekking.
Dit weens die onversetlikheid om afstand te doen van die kommunistiese beleid om alle produksiemiddele in die staat te vestig. Soos Gwede Mantashe onlangs nog in ’n media-onderhoud gesê het: “Ek is ’n Marxis van die ou skool.”
Onder hierdie omstandighede is dit verreweg die beste opsie vir die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) om beheer oor te neem. Die vraag is net, hoe ver moet die ekonomie nog verswak voor dit gaan gebeur?
Alle aanduidings is dat dit vir die alliansievennote met hul ideologiese verset teen die prysgawe van ekonomiese soewereiniteit ’n te bitter pil is om te sluk.