Uit die resensie van die roman Gedeeltelik bewolk deur Ruan Kemp (DB, 05.08) lyk dit asof die resensent Jonathan Amid opreg glo die hoofkarakter in die roman is ’n louter fiktiewe skepping. Allesbehalwe.
Die verhaal van George Moore is in breë strekking sowel as verbasende besonderhede gegrond op die lewe van ’n man wat talle van ons Kapenaars geken het.
As Amid inderdaad hier onder ’n wanindruk verkeer, verras dit nie. Daar word immers nêrens in die boek erkenning gegee aan dié mens se rol in Kemp se boek nie. Al petieterige aanduidinkie van die man wat Kemp se verhaal so kant en wal vol staan, is die motto voorin: “In memoriam DB.”
Amid gesels vandeesweek met Kemp by die bekendstelling van sy boek op Hermanus. Ek hoop van harte DB kom ter sprake. Volledig, en in besonderhede.