Liefhebbers van ernstige of klassieke musiek in Bloemfontein is baie bevoorreg.
Hiervan was die Nettie Immelman-gedenkkonsert Donderdagaand in die Odeion weer ’n bewys. Wat ’n belewenis was hierdie konsert nie, met die Odeion-strykkwartet met sy bekwame en talentvolle musici saam met die internasionaal gerekende pianis Amit Yahav.
Daar is groot waardering vir instansies soos die Odeion Skool vir Musiek (OSM), die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) – wie se strykkwartetlede ’n bydrae van onskatbare waarde lewer danksy inisiatiewe van onder andere prof. Frederick Fourie – die Vrystaat-jeugorkes en die talle musiekopvoeders wat ons kinders met deeglike onderrig begelei.
Die werk wat by die Bochabela-strykers gedoen word, verdien ook vermelding.
So is ’n beurs van die gesogte Juilliard-skool in New York weer aan ’n leerling van Francois Henkins toegeken.
’n Mens sou nog vele ander voorbeelde kon noem.
Groot dank en waardering vir diegene wat ons steeds met gehalte-uitvoerings bederf.