Die verkeersituasie is kompleks, en debat is geregverdig. Bun Booyens (25.01) se stelling dat die N1 en N2 oorbenut word omdat dit gratis is, kort minstens kommentaar.
Net die brandstofprys sluit ongeveer 40% aan belastings in. Dan word verskeie ander belastings ook deur private padgebruikers betaal. Die meeste stem saam dat die belasting wat private padgebruikers betaal, die besteding op paaie oorskry.
Wat nodig is, is die regte balans tussen private en openbare vervoer. Openbare vervoer is ook nie gratis nie. Altesaam 6% van eiendomsbelasting word toegewys aan MyCiTi-subsidiëring. Dis die beste deel van R1 miljard per jaar – voor 2010 was dit uiteraard nul. Dan word nog sowat R2 miljard jaarliks aan subsidies vir Golden Arrow en die Kaapse treindienste betaal.
Die stroping en vernieling van vervoerinfrastruktuur maak sake nog moeiliker.
Kan dit omgekeer word? ’n Mens kan net wonder of dit moontlik is om die vervoerstelsel beter te bestuur.