Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Justisie se probleme moet op grondvlak getakel word

Bheki Cele, minister van polisie, wil weet waarom ’n moordverdagte steeds los loop nadat hy al 16 keer deur die polisie gearresteer is (14.10). Op dieselfde voorblad word oor die haglike toestand in die departement van justisie berig.

Dit is prysenswaardig dat groot visse van VBS Mutual Bank, Steinhoff, Bosasa en Ace Magashule se asbes-entrepreneurs nou hul dag in die hof gaan kry. Solank die geploeter egter op grondvlak (in landdros- en distrikshowe) voortduur, sal die departement van justisie steeds op die rand van die afgrond dobber.

Hofsittings begin dikwels eers 10:00. ’n Halfuur later is dit teetyd, dan weer ’n kort sitting tot etenstyd. In hierdie sittings word sake slegs uitgestel sonder dat ’n enkele beskuldigde verhoor word. Ná etenstyd word ’n uur gebruik om ’n saak te verhoor, dan is dit weer teetyd en ’n kort sitting waarna die hof vir die dag verdaag. Volgende keer is die staatsaanklaer siek of die landdros is verplaas.

Wanneer ’n beskuldigde vir die vyfde keer by die hof opdaag, word die saak dikwels van die rol geskrap of sommer teruggetrek. Daar is soveel bykomende redes waarom sake nie afgehandel word nie. Onvolledige ondersoeke deur die polisie, ondersoekbeamptes wat nie by die hof opdaag nie, dossiere wat by die polisie en die howe verlore raak, pligsversuim en korrupsie, om maar ’n paar redes te noem.

Beskuldigdes doen dikwels aansoek om regshulp, net om ná ’n paar hofverskynings die regsverteenwoordiger in die pad te steek, want die beskuldigde betaal mos nie daarvoor nie. ’n Ander regsverteenwoordiger moet dan aangestel word. Getuies raak moeg om telkens die hele dag by die hof te verwyl en daag volgende keer bloot nie op nie. Boonop gebruik die departement van justisie onbevoegde tolke wat dikwels nie Afrikaans of Engels behoorlik magtig is nie.

Selfs in die hooggeregshof, tydens die verhoor van die Coligny-2, kon die tolk nie die klagstaat behoorlik aan die beskuldigdes voorlees nie. Die tolk het met die lees van die klagstaat die woord “moordenaars” gebruik. Die verdediging het beswaar gemaak, die regter het die tolk tereg gewys, tog is dieselfde tolk steeds in die saak gebruik.

Vir ’n boer is die diefstal van ’n enkele skaap of bees ’n ernstige saak, maar hofpersoneel beskou soms so ’n saak as gering. As geringe sake nie behoorlik bereg word nie, sal daar altyd misdadigers wees wat, nadat hulle 16 keer in hegtenis geneem is, uiteindelik weens ’n ernstige saak soos moord aangekeer word.

Dankie aan die toegewyde beamptes van die departement van justisie, staatsaanklaers en landdroste, asook toegewyde polisiebeamptes wat ek ook as regsbeamptes beskou.

As ek die indruk skep dat ek nou kwaai veralgemeen het, gaan kyk gerus na die lae suksessyfer van afgehandelde hofsake, wat voorafgegaan word deur die lae oplossyfer van sake wat by die polisie aangemeld word.

Meer oor:  Bheki Cele  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.