Ek verwys na die rubriek “Brandpunt” op 7 Januarie deur prof. Johannes Froneman getiteld “Vrae oor Naspers asook TV-reus” en op 10 Januarie deur Leopold Scholtz getiteld “As geld meer tel as die navorsing”.
Toe ek eersgenoemde rubriek lees, was dit met ’n gevoel van verdwasing. Toe ek egter die tweede lees, is ’n gevoel van weersin by my verwek.
Hoe is dit moontlik dat prof. Lizette Rabe se intellektuele kapitaal só vermors kon word? Sy het tog sekerlik die kennis om ’n navorsingstuk van hierdie omvang feitelik te kan weergee?
Wat is dan die rede dat die publikasie oor Naspers se geskiedenis stilgehou moet word?
Ton Vosloo het die druk en verspreiding van die werk ondersteun, maar Koos Bekker nie. Dít wat verbloem moet word, het dus in laasgenoemde se era plaasgevind.
Wat kan dit tog wees wat een mens dryf om ’n ander te boelie?