Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Keer dat Voëlklip nóg ’n lewe eis

Werner Finger en twee vriende het in 2015 by Voëlklip by die kranse afgestort. Op 22 Oktober vanjaar het Heidi Scheepers met haar drie kindertjies oor dieselfde kranse gestort. Hierdie week het dit weer gebeur. Op Dinsdag 3 Desember het ’n vrou met haar motor oor die kranse gery.

Die Stormrivierbrug was eens op ’n tyd ’n geliefkoosde selfdoodplek. Talle mense het tot in die middel van die brug gestap, oor die reling geklouter en dan gespring. Daar is selfs eens op ’n tyd ’n foonhokkie aan die kant van die brug aangebring wat voornemende afspringers kon gebruik om hulp te soek as daar nog omdraaikans was.

Ek beweer allermins dat die Voëlklip-tragedies selfdooddade was. Hoe bewys ’n mens dit in elk geval?

Ek pleit dat metaalversperrings by Voëlklip aangebring word wat sal verhinder dat karre daar afstort. Hoe op aarde is dit moontlik dat daar nie ná 22 Oktober reeds metaalversperrings opgerig is nie? Ek weet nie of dit openbare grond is of nie, wat elk geval nie ter sake is nie.

As mens ’n sekere stadium van depressie bereik, begin jy met die gedagte van selfdood speel. Eers verban jy die gedagte. Later koester jy die gedagte. Jy maak die gedagte in ’n warm kombersie toe en vat dit saans saam bed toe. Bedags dra jy die gedagte in ’n sakkie aan jou lyf, na aan jou hart. Jy doen dit sonder dat iemand agterkom. Jy begin daarna uitsien, soos na ’n vakansie, ’n wegkomkans. En net eendag, miskien ná een of ander teleurstelling of seer wat nie eens iets erg hoef te wees nie, vat jy die pad en jy doen dit.

Almal het nie pistole om hulle eie lewe te neem nie. Om te skiet verg ’n mate van aggressie. Die spring of afry voel beter, veel ligter. Dit word iets waarna jy begin uitsien. Dis ’n gevoel van om te vlieg, na vryheid te vlieg soos ’n arend.

Maak seker dat Voëlklip nie so ’n plek word nie. Mense met selfdoodgedagtes lees van Voëlklip en wat daar gebeur en kan die plek begin romantiseer.

Doen dit voor einde van die jaar. Dis nou selfdoodtyd. Dis wat my betref die slegste tyd van die jaar. Ek het niks teen die Christelike boodskap van Kersfees nie. Soos gewoonlik los ek in Swartland-gemeentes in hierdie tyd af. Dit maak egter geen verskil aan die feit dat baie mense aan die einde van die jaar en begin van die nuwe jaar emosioneel siek raak nie: depressie, angs! Kersfees: ’n kontradiksie van blydskap en droefheid/selfdood.

Wees bedag. Kry hulp as iemand selfdood slegs as ’n moontlikheid noem. En doen iets voorkomend by Voëlklip, want dié plek kan nou geïdealiseer word as ‘n “afglyplek” na vryheid.

Soek hier hulp:

Die Burger raai lesers wat aan depressie ly of indien hulle iemand ken wat aan depressie ly en selfdoodgedagtes het om die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) te kontak. Die noodlyn vir mense wat hulp nodig het of met iemand wil praat, is 0800 567 567. Hulle doen ook tussen 08:00 en 16:00 telefoniese berading en vanaf 16:00 aanlyn berading op hul webtuiste.

Meer oor:  Malmesbury  |  Mystem  |  Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.