Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Klimaatsverandering – wat kan gelowiges doen?

Die hartroerende en dramatiese inleidende paragraaf van die artikel met die ewe dramatiese opskrif “Wanneer jy die aarde om jou sien sterf” (Buite, 13.08) het my hart inderdaad geroer. Nie soseer oor die impak wat klimaatsverandering op die natuur het nie, maar oor die mense met “ ’n diepe hartseer, angs, woede en ’n gevoel van hopeloosheid oor die klimaatskrisis” soos die inleidende paragraaf dit stel.

Ek skryf hierdie brief as afgetrede toegepaste natuurwetenskaplike wat in my loopbaan deeglik met die impak van klimaatsverandering op die natuur te doen gehad het, veral gedurende die afgelope 30 jaar. Volgens my eie ondervinding het klimaatsverandering sedert ongeveer 1990 merkbaar begin manifesteer. Sedertdien het ons die woede van die natuur in storms (orkane, tornado’s), oorstromings, wegholbrande en droogtes in toenemende felheid ondervind. Is daar vir die mens en lewe op aarde hoegenaamd ’n toekoms? Nie as ’n mens die droewige bevindinge en voorspellings van die bewaringsekoloog prof. Wendy Foden in die artikel ernstig moet opneem nie.

Wat met die aarde se biologiese gordel aan die gebeur is, is beslis tragies, maar nog tragieser is dat die mens uit verhouding is met sy Skepper en dat hierdie aarde sy god is waaraan hy met mag en mening moet vasklou want dis al wat hy het. Ironies: Die mens is besig om sy godin, Moeder Aarde, van die verval te probeer red omdat sy te swak is om haarself te red.

Die agteruitgang van die natuur is niks nuuts nie. Dit vind al die afgelope duisende jare plaas sedert die sondeval van die mens. As die natuur vandag vir ons wonderlik is, of sê maar so 100 of 200 jaar gelede was, voordat bevolkingsontploffing en industrialisasie hul invloed uitgeoefen het, dink net hoe moes dit gewees het net nadat die skepping plaasgevind het en God van alles gesê het dat dit goed was, volgens Genesis 1.

Die krisis waarin die mensdom homself bevind, kan in twee profetiese Bybelgedeeltes geïllustreer word. Die een in Lukas 21 waar Jesus Christus self sê hoe daar tekens sal wees aan son en maan en sterre en op aarde benoudheid van nasies in hul radeloosheid wanneer see en branders dreun (herinner dit mens aan die onlangse tsoenami’s en orkane wat groot verwoesting gesaai het?) en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom.

Die ander een in Openbaring 8:7 waar die eerste engel met die basuin blaas en hael en vuur wat met bloed gemeng is op die aarde gegooi sou word (simbolies) en ’n derde van die bome en al die groen gras sou verbrand. Dit is die eerste van ’n reeks ekologiese rampe waaroor hier geprofeteer word, wat in ons dag met die vernietigende mega-veld- en -bosbrande oor die aarde heen, ook in ons eie land, reeds werklikheid geword het.

As gelowige wat glo dat die aarde deel is van God se skepping en dat Hy in die Bybel vir ons al hierdie dinge wat oor die aarde sou kom profeties uiteengesit het, is ek bewus van die verganklikheid van die bestaande skepping en dat dit uiteindelik tot niet moet gaan. Maar is dit die einde? Nee, profeties sal die aarde herskep word en uiteindelik met ’n nuwe hemel en nuwe aarde vervang word wat nooit weer verderwing sal ondergaan nie. Daar ís ’n uitkoms vir die mens, nie om na strooihalms te gryp om die aarde te probeer red nie, maar deur hom tot God te bekeer en in Jesus Christus (die Verlosser en Gesalfde) te glo.

Hiermee propageer ek hoegenaamd nie dat mens hande gevou moet sit en wag vir die einde nie. Ons landbou kan as voorbeeld gebruik word van hoe mens wel tot ’n mate by hierdie veranderings biologies en tegnologies kan aanpas. Hierdie vermoë het egter perke.

Meer oor:  Klimaatsverandering  |  Knysna  |  Brief  |  Mystem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.