Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Korrupsie: Is daar hoop?

Die vlaag van korrupsie in Suid-Afrika sal nie skielik tot ’n einde kom as pres. Jacob Zuma uit die leierstoel van die ANC geskop word nie. Ander maniere, soos ’n onafhanklike integriteitskommissie, sal wel help om korrupsie op lang termyn te bekamp, berig Gert van der Westhuizen.

Suid-Afrikaners is behoorlik keelvol vir korrupsie en voel dikwels terneergedruk omdat dit lyk asof dié stryd een is wat moeilik gewen sal word. Maar adv. Paul Hoffman, ’n direkteur van Accountability Now, het Maandag darem ’n brokkie goeie nuus gehad toe hy saam met die joernalis Jan-Jan Joubert op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn aan Die Burger se Praat Saam-gesprekreeks deelgeneem en oor korrupsie gepraat het.

’n Dagvaarding behoort nog dié maand beteken te word om te probeer om sowat R35 miljard terug te kry wat as deel van die omstrede wapenskandaal uitgegee is, het Hoffman gesê.

Volgens Hoffman, skrywer van die boek Confronting the Corrupt, was die kontrak waarmee vliegtuie by British Aerospace gekoop is die grootste van Suid-Afrika se omstrede wapenskandaal.

Hy het gesê die dagvaarding is daarop gemik om die transaksie tersyde gestel te kry en die vliegtuie aan British Aerospace terug te gee.

Hoffman het gesê die “ekstra goeie nuus” is dat daar ook met die dagvaarding gepoog gaan word om die geld terug te kry waarmee mense omgekoop is.

Suid-Afrikaners steier deesdae behoorlik onder korrupsie; iets wat Hoffman bestempel as diefstal van die armes deur korrupte politici en sakelui.

’n Gemiddeld van 11 sake van korrupsie word daagliks aangemeld, het Waldimar Pelser, redakteur van Rapport en Maandag se gespreksleier, gesê.

Volgens Hoffman is daar 3 000 sake van korrupsie net wat tenders betref.

“Die nasionale vervolgingsgesag doen net mooi niks daaraan nie omdat die mense in die beskuldigdebank almal vooraanstaande ANC-lede sal wees.”

Hoffman en Joubert het Maandag daarop gewys dat korrupsie in Suid-Afrika beslis nie net tot die regering beperk is nie en ook in die private sektor voorkom.

Daar word deesdae byvoorbeeld al hoe meer gehoor dat maatskappye saamsweer om pryse vas te stel. Broodpryse was al ter sprake en konstruksiemaatskappye is ook oor hul bedrywighede rondom die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 op die vingers getik.

“Daar was voor 1994 en ná 1994 baie korrupsie in die private sektor,” het Hoffman gesê.

Regeringskorrupsie pla gewone burgers egter meer omdat hulle glo dat dit húl geld is wat vermors word, sê Hoffman.

Tog is sulke korrupsie glad nie iets nuuts in Suid-Afrika nie.

Joubert het verwys na regeringskorrupsie onder die Nasionale Party. Daar was “morele korrupsie” toe die apartheidsregering bruin kiesers se stemreg weggeneem het.

“Daar was ook ander skandale. Met die tuislandbeleid is geld letterlik weggegooi.”

Dit is destyds nie aan die groot klok gehang nie omdat die pers nie toe so vry soos nou was nie. “Ons is nou meer bewus daarvan.”

’n Vrye pers is een van die maniere waarop korrupsie bestry kan word, terwyl Suid-Afrika se Grondwet en onafhanklike howe Hoffman ook moed gee.

“Die oppergesag van die Grondwet is die groot verskil tussen die ou Suid-Afrika en die nuwe Suid-Afrika.”

Volgens Joubert skroom politieke partye soos die DA en EFF ook nie om korrupsie in die howe te beveg nie en doen goeie werk in dié opsig.

Tog voel Hoffman dat ’n integriteitskommissie baie sal help om korrupsie op lang termyn te bekamp. So ’n kommissie sal wyer magte as die openbare beskermer hê omdat hy ook na korrupsie in die private sektor sal kyk.

Hoffman meen dat daar in elk geval nie meer veel peil op die openbare beskermer getrek kan word nie.

“Adv. Busisiwe Mkhwebane is een van dié wat deur pres. Jacob Zuma gekaap is. Sy is beslis nie nog ’n adv. Thuli Madonsela nie. Boonop doen die polisie en die nasionale vervolgingsgesag nie hul werk nie en is die Valke onder Zuma se duim.

“Die Skerpioene het goeie werk gedoen, maar is ontbind.

“Thembekile Makwetu, die ouditeur-generaal, gee ’n mens ook baie hoop, maar hy het nie genoeg tande nie.

“Die korrupte faksie steel nie net ons geld nie. Hulle het ook die staat gesteel,” sê Hoffman.

“Die probleme sal egter nie opgelos word as Zuma oornag verdwyn nie. Hy is net die verpersoonliking van die probleem.”

Toenemende burgerlike verset teen Zuma se regering, soos met verlede week se betogings gesien is, gee Hoffman en Joubert moed vir die toekoms.

“As dié tipe optrede tot 2019 voortduur, sal genoeg mense besef dat die ANC nie eintlik in landsbelang regeer nie en kan daar by die stembus ’n verskil gemaak word,”

sê Hoffman. “Die stembus praat wel die hardste.”

Koalisiepolitiek is straks Suid-Afrika se voorland met die “goeie mense in die ANC” wat saam met die DA kan werk.

Hoffman sal graag wil sien dat adj.pres. Cyril Ramaphosa sy stem dik maak in aanstaande week se wantrouedebat. “Hy moet sê: ‘Ek hou van jou, Jacob. Ek is lief vir die ANC, maar ek is liewer vir my land.’

“Hy sal minstens 60 ANC-lede aan sy kant kry,” het sê Hoffman.

Joubert glo egter dat die Zuma-faksie in die meerderheid in die ANC is en dat Ramaphosa nie veel van ’n kans teen die president se ondersteuners staan nie.

Sy hoop is veel eerder op die mense van Suid-Afrika. “Hulle het ’n vreemde X-faktor: die wil om die land te laat werk.”

’n Gewone mens kan ook baie doen om korrupsie te bestry. “Begin by jouself. Moenie mense omkoop nie, betaal eerder jou spoedkaartjie.

“Meld korrupsie aan. Die wiel van die gereg draai stadig, maar seker. Mense moet ook by burgerlike verset betrokke raak,” het Joubert gesê.

“Die belangrikste is om nie neerslagtig te raak nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.