Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Kruisvra Mnr. X oor Magnus-bewerings

Die geheimsinnige Mnr. X bevind hom in die gerieflike posisie dat hy eensydig sy storie kan vertel. Die verslaggeefster Maygene de Wee, wat skynbaar die enigste een met toegang tot hom is, teken dit op; Netwerk24 en Media24 se dagblaaie (met die lofwaardige uitsondering van Beeld) publiseer dit.

Vrae word gevra oor die merkwaardige onthou ná drie dekades van die roete wat die blou Kombi (met die gordyntjies) die aand van die “ontvoering” sou gery het. Die tyd het aangebreek dat me. De Wee of iemand met ervaring van kruisondervraging ’n kritiese gesprek met Mnr. X voer om sy stellings te verifieer.

Onthou hy bv. die opset van die “huis in Tsitsikamma” ewe haarfyn as die roete in Port Elizabeth? Waar is die huis; hoe lyk dit van binne en buite? Hoe klein of groot is die slaapkamer waarin hy die hele nag vir ’n “Oom” moes vrou-vrou speel? Waar was die badkamer waar hy ewe bedagsaam toegelaat is om te gaan bad? Was dit en suite?

Hoe ver of naby is die gruwelhuis van die see of aan ander huise? Kan hy dit gaan uitwys? Waar is die voertuie geparkeer?

Blou Kombi’s was daardie tyd volop. Ekself het een besit (darem sonder gordyntjies!) Wat maak Mnr. X so seker dat die een waarin hy “ontvoer” is en die een wat hy jare later in Militêre Intelligensie se parkeerarea opgemerk het, een en dieselfde voertuig is. Net die gordyntjies, lyk dit, want hy wat die strate en name van geboue so haarfyn onthou, het nie na die registrasienommer opgelet nie. Of het hy?

Volgens hom is ’n vuurwapen in sy sy gedruk. Jare later kon hy dit as .38 Special identifiseer. Die verskrikte seun moes dus geleentheid gehad het om dit, of wat daarvan sigbaar was, fyn te bekyk om so ’n herinnering te kon opdiep.

Wie sou die vyf mans in die kombi gewees het, en die helpers wat in ’n ander voertuig by die vulstasie opgedaag het toe hy probeer het om te ontsnap? Lede van Militêre Intelligensie wat in opdrag van die minister vir hom seuntjies gaan vang het? Was hulle in uniform, was hulle jonk, het almal Afrikaans gepraat? Was hulle gemasker dat hy hulle nie later kon herken soos hy die Kombi en die vuurwapen herken het nie?

Hy vertel van die middagete – die lekkerste en meeste kos wat hy nog in sy lewe gesien het. ’n Mens verwonder jou aan so ’n feesmaal ná al die onbehoorlike aktiwiteite, en dat die onwillige slagoffers so gesellig saam kon aansit met diegene wat hulle later as hul “ontvoerders” en “verkragters” sou kon uitwys.

Wie sou daardie ete berei het – ’n kok of kokke wat, soos ander betrokkenes, met blindheid geslaan was oor wat onder hul neuse aangaan?

’n Mens sou die lys vrae kon langer rek, maar is dit nodig? Dit behoort duidelik te wees dat Mnr. X se opspraakwekkende storie nie langer vir soetkoek opgedis durf word nie. In belang van verantwoordelike joernalistiek behoort hy met die vaaghede, onwaarskynlikhede en ongeloofwaardighede van sy storie gekonfronteer te word.

Meer oor:  My Stem  |  Mnr. X
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.