Theo Stehle, Knysna, skryf: Terwyl dit verblydende nuus is dat die SAL en SA Express nie meer reddingsboeie van die regering gaan kry nie en dat dit waarskynlik die laaste spyker in hul doodskiste gaan wees, pla daar tog dinge.

Pravin Gordhan
Die regering, meer onlangs by monde van min. Pravin Gordhan en aangevuur deur die ANC se ander twee alliansievennote, het teen alle gesonde en kundige advies van ekonome in hardnekkig geweier om te luister en reddingsboei op reddingsboei van kosbare staatsgeld op hierdie sukkelende staatsbeheerde ondernemings uitgemors.
Hierdie geld kon nou groot verligting gebring het aan die haglike ekonomiese noodtoestand wat met die viruspandemie gepaard gaan.
Die laaste reddingsboei van R3,5 miljard van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika was baie omstrede betreffende die bank se mandaat.
Etlike miljarde van staatsdienspensioengeld wat deur die Openbare Beleggingskorporasie in die bank belê is, het waarskynlik deel van die lening uitgemaak.
Dit sal moontlik afgeskryf moet word – die soveelste verlies vir die rekening van die driepartyalliansie en hul rampspoedige ekonomiese beleid.
Daar kan net gehoop word dat die viruskrisis die nodige nugterheid in ekonomiese beleid tot gevolg sal hê.
Staatsdienspensioentrekkers vorm deel van die kwesbaarste seksie van die samelewing, as daar in gedagte gehou word dat die meerderheid afgetrede staatsdienswerkers se maandelikse pensioengeld R10 000 en minder beloop. Daar mag nie met hul pensioenfondsgeld gedobbel word nie.