Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Kyk wat Mandela gesê het oor Afrikaans

Dat die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, vanjaar – 2018 – die Mandela-jaar wil maak vir die herbou van die party, met aandag aan die waardes van oudpres. Nelson Mandela, is sonder meer allerweë te verwelkom.

Met inagneming van juis die aard van tyd, bly begrippe soos “onwrik­bare beleid” en “doelstellings” en “my versekering”, selfs “hulp met” morele wegwysers. Ek haal aan uit ’n toespraak van Madiba:

“Soos u uit my vorige opmerkings oor die Afrikaanse taalstryd kon aflei, het ek ook begrip vir die vrees wat u al vele kere uitgespreek het dat Engels ten koste van Afrikaans bevorder sal word.

“Tog wil ek u verseker dat dit glad nie my regering se doelstelling is nie. Net so min as wat u wil hê dat Afrikaans verdring moet word, wil ek nie my eie moedertaal Xhosa in ’n minderwaardige posisie sien nie.

“Die beskerming en bevordering van al die tale in hierdie land is die onwrikbare beleid van die Regering van Nasionale Eenheid en van die ANC. Ek wil u verseker dat ons nie hieroor hoef te redeneer nie: U het my versekering dat Afrikaans as taal van hierdie land beskerm en bevorder sal word.

“Omdat Afrikaners mag gehad het, is Afrikaans bevoordeel en bevorder en het dit gegroei tot ’n sterk letterkundige, wetenskaplike en akademiese taal. Maar wat die taal bereik het, is ’n prestasie vir ons hele nasie en in ons pogings om ander tale te ontwikkel en gelyk te stel, moet ons versigtig wees om nie te vernietig wat Afrikaans as taal bereik het nie.

“Ons moet ’n praktiese balans vind, wat erkenning en respek aan al die tale in ons land sal bied. Ek moet van kultuurorganisasies, soos die ATKV, hulp vra met hierdie ingewikkelde en delikate taak.

“Ek vra u om nie die emosies van die taalkwessie uit te buit nie. U sal die saak van u taal en u kultuur baie dien deur ’n groothartigheid van gees – ‘generosity of spirit’ – aan die dag te lê. Om net te eis, bemoeilik die taak en skep ’n indruk van selfsugtigheid, wat Afrikaans net skade kan doen. Om saam te werk en daadwerklik te bewys dat u besorgd is oor die regte van ander tale, sal ons almal se taak vergemaklik.

“Afrikaans is ’n taal wat uit die bodem van Suid-Afrika gegroei en ontwikkel het, gevoed deur die verskeidenheid van tale en kulture in ons land, gewortel in die soeke na eie identiteit en vryheid.

“Sy krag en hoop op die toekoms was nog nooit spesiale bevoorregting nie; maar as een van die tale van Suid-Afrika wat skouer aan skouer tesame met die ander tale met respek en gelyke regte die toekoms tegemoet moet gaan.”

Meer oor:  Nelson Mandela  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.