Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Laat die weermag eerder plaasaanvalle help voorkom

Ek verwys na die voorbladberig (19.02) waarin berig word dat misdaad in die Brits-omgewing totaal handuit geruk het.

Plaasaanvalle in ons samelewing het al so algemeen geword dat ons dit maar soos ’n chroniese siekte dokter om maar net aan die lewe te bly. Soms lig ons ’n wenkbrou, ander kere ruk dit jou, soos toe ’n familielid van my 14 dae gelede koelbloedig doodgeskiet is in Molopo naby Vorstershoop. Toe die aanvallers nie die kluis in die huis kon oopkry nie, is sy met ’n enkele kopskoot “tereg­gestel”.

Die kommandostelsel van vroeër jare het gehelp dat misdaad op die platteland, en plaasaanvalle in die besonder, tot die minimum beperk is. Jackie Selebi eertydse kommissaris van polisie het hom sedert 2003 daarvoor beywer om die kommandostelsel op die platteland te laat afskaf. Selebi het alles wat aan die apartheidsera herinner het tot niet gemaak. So ook die polisie se opleidingsbasis op Maleos-kop naby Groblersdal.

Bygestaan deur genl. André Pruis, sy adjunk, het Selebi ’n pragtige model opgestel en aan die parlement verkoop. Die kommandostelsel sou deur ’n polisiereservistestelsel vervang word waarvolgens reserviste op die platteland opgelei sou word om plase in hul omgewing te help beveilig. Hierdie stelsel, wat boere en hul werkers sou insluit, is weens rompslomp dood gebore. ’n Reservis op ’n plaas wat byvoorbeeld 30 km van die dorp en polisiekantoor gewoon het, sou eers dorp toe moes gaan om vir diens aan te meld en dieselfde proses moes gevolg word wanneer hy van diens sou gaan.

Dit was prakties nie moontlik en het nooit aan die gang gekom nie. Die polisie het hul hande vol met misdaad in die stede, dorpe en townships, en weinig aandag word aan misdaadvoorkoming op die platteland gegee. (Laksheid speel ook ’n rol).

Omdat ek nie insae in die weermag se werking het nie, kan ek nie bevestig dat sy lede dikwels ledig verkeer nie. Ek glo dat die weermag gebruik kan word om met die voorkoming van plaasaanvalle te help. Dit sal in elk geval ’n beter aanwending van die weermag wees in plaas van die rioolpatrollie waarvoor die weermag ingespan word om die Vaalrivier te probeer suiwer.

Ek het geen beswaar teen die poging om die Vaalrivier skoon te maak en skoon te hou nie, dog weer eens blyk hierdie poging onsuksesvol te wees weens ’n geldtekort en rompslomp.

Dit maak net nie vir my sin dat die munisipaliteit sy mandaat op die weermag afskuif nie.

Ek kan ook nie ontken dat ’n vrot rivier dieselfde dodelike gevolge vir mense het as plaasaanvalle nie. Dit bly ’n dilemma wat dieselfde dringendheid as Eskom se gemors verdien.

Meer oor:  Weermag  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.