Daar is die laaste tyd heelwat menings gelug oor die gehalte van ons plaaslike rugby.
Op talle besoeke aan ons kinders in Nieu-Seeland kon ek Vrydagmiddae by ’n sportkompleks gaan kyk waar tussen 300 en 400 laerskoolseuns en -meisies aan afrigtingsklinieke, gevolg deur sewe-aan-’n-kant-wedstryde, deelneem.
Deurlopend hoor jy afrigters skree: “Windows, guys, windows.” By navraag blyk dit toe dat die “window” die opening tussen die twee hande van die ontvanger is. Hande word voor die oë gehou, palms na die ontvangkant, met duime na mekaar, vingers liggies gesprei en ontspanne. Praat van ’n groot visie.
Dan kan jy die situasie voor jou speel en beter besluite neem, want jy sien gapings, verdedigers en oop ruimtes baie beter.
Laat ons ons gr. 1’s dit ook aanleer. Hulle geniet dit, want min balle val. As die gr. 1-juffrou aan jou sê: “Meneer, vandag sukkel ek weer baie, want die rugbymanne wil aanhoudend weet hoe lank nog voordat die rugbyoefening begin”, dan weet jy hulle is vir ons geliefde spel gewen.
Dan is daar ook nog die gewilde Rippa-rugby of Tag-rugby. Dit het vele voordele op aanval en verdediging wat die jong Nieu-Seelanders uitstekend benut.