Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Leuen-toets kan Minnie se ‘feite’ verifieer

Johan van der Merwe, Montana, skryf:
Ek verwys na die berigte die afgelope paar weke oor Mark Minnie en Chris Steyn se boek Die seuns van Bird Island.

Ek wys graag enkele betekenisvolle feitefoute uit wat die geloofwaardigheid van die boek ernstig in gedrang bring.

Steyn het reeds in 2006 in haar boek Publish and be Damned sekere van die bewerings gepubliseer. Daardie boek het geen opspraak verwek nie, en ek het min twyfel dat die inligting oor die helikopter wat die drie ministers na Bird-
eiland geneem het, die sneller was wat Steyn en Minnie beweeg het om genl. Magnus Malan en Barend du Plessis deur assosiasie aan die hare by te sleep.

Die seuns van Bird Island

Minnie betrek ook die ontslape brig. Ernest Schnetler, destyds afdelingskommissaris van Port Elizabeth, maar verwar sy datums. Schnetler is aan die einde van 1987 na Johannesburg verplaas. Volgens Minnie se relaas is hyself na Soweto verplaas waar hy by die deursoeking van ’n Inkatha-hostel betrokke was.

Uit sy vertelling is dit duidelik dat die voorval ná 1991 plaasgevind het. Hy word daarna terugverplaas na Port Elizabeth en hervat, volgens hom, sy skakeling met Schnetler – wat lankal nie meer daar was nie.

Minnie word blykbaar so meegevoer dat hy vergeet dat die Sanab-tak waaraan hy verbonde was, onder die regstreekse bevel was van die afdeling-speuroffisier, genl.maj. Barry Henn. Die gewone werkswyse van die polisie sou bepaal dat die afdelingskommissaris noodwendig met Henn moes skakel waar dit enige lid onder sy bevel geraak het. Henn dra egter hoegenaamd geen kennis van enige van die bewerings wat Minnie maak nie.

Ek was van 1985 die tweede-in-bevel van alle veiligheidstakke in die land, en van 1986 tot 1 September 1988 die bevelvoerder. Indien die bewerings wat Minnie maak waar is, sou dit sonder twyfel onder my aandag gekom het.

Ek kan ook onomwonde verklaar dat PW Botha nooit volgens my wete op enige wyse probeer het om die wandade van enige minister te verdoesel nie.

Daar was oor die jare ruim geleentheid vir die sogenaamde slagoffers van die pedofieldade om na vore te kom. Dit geld ook vir die persone wat nou met geskal beweer dat hulle geweet het van die bewerings.

Die feit dat dit nie gebeur het nie, behoort almal twee keer te laat dink.

Ek is bewus daarvan dat dit ná 31 jaar baie moeilik is om sulke wollerige bewerings te weerlê. Selfs al word feite aangebied om die ongeloofwaardigheid daarvan bloot te lê, gaan twyfel steeds bestaan.

Die enigste manier waarop die waarheid op ’n onafhanklike wyse bepaal kan word, is deur ’n leuenverklikkertoets.

Ek is bereid om my aan ’n leuenverklikkertoets te onderwerp ten opsigte van my stellings.

Dit sou net billik en in die belang van die waarheid en reg en geregtigheid wees as Chris Steyn en die mense wat sy as getuies voorhou, dieselfde doen.

Meer oor:  Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.