Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Los my vryheid van spraak

In Kommentaar van 1 Mei praat Heindrich Wyngaard van “Die vermetelheid van dié wat nie onder apartheid se inperkings gely het nie, wat nou koor-sing teen drakoniese maatreëls.”

Van wanneer af word my vryheid van spraak gemeet teen wat ek in my vroeër lewe gely het, of nie. Of om dit as ’n liksens te beskou om beswaar aan te teken teen sekere van die maatreëls wat veronderstel is om korona te bekamp. My vryheid van spraak wat die Grondwet my gee is my liksens om, as ek dink iets is onbillik, onregverdig en drakonies, dit so aan te teken.

Maar miskien moes Wyngaard na ’n paar van die land se erkende en gesiene politieke ontleders se opinies oor die naweek geluister het.

En dat die land se mense volgens Ipsos nie hul ondersteuning vir pres. Cyril Ramaphosa se grendelmaatreëls verloor nie, maar wel vir die feit dat die indruk geskep word dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma die hele koronastryd in die bokskryt ingeneem het, en al vingerwysend die publiek behandel soos stout skoolkinders. Hoekom het vlak 4 skielik die handves van ons nuwe eerste minister en haar paar trawante geword?

Maar kom ek vertel vir Wyngaard waaroor ons kwaad is.

1. Die verkoop van warm kos. Die virus hou nie van hitte nie. Die baie werkende mense wat ’n warm pastei wil koop in die middag, die vragmotorbestuurders wat by Beaufort-Wes stilhou, die supermarkwerkers wat van douvoordag al rakke pak, moet nou almal liewer ’n stuk koue polonie eet.

2. Die magsvertoon van Dlamini-Zuma met die ommekeer van die besluit van die president, dat die verkoop van sigarette wel toegelaat gaan word. Dit het niks met korona te doen nie, en almal wonder waarmee het dit te doen. Beskerming van Adriano Mazzotti se onwettige sigarette? Vir wie help hy en wat dra hy by tot die inkomste van die SAID soos wat die wettige tabakbedryf doen? R36 miljoen per dag? Tel dit niks, of belas ons maar net weer die wetsgehoorsame bevoorregtes totdat die laaste paar goue ganse wegvlieg na ’n vriendeliker omgewing.

3. Die groot guns vir die fiksheidsbewustes, eensames, dié wat honde besit en atlete, dat ons van 06:00 tot 09:00 mag uitgaan om bietjie oefening te kry, in plaas daarvan om net te sit en eet en allerhande siektes te kry as gevolg van vetsug. Dit nadat die eerste minister ons gedreig het van hoe hulle ons gaan toesluit as ons nie die reëls nakom nie. Besef sy dat in die Wes-Kaap as gevolg van die ongerieflike feit dat die aarde rond is, dit eers vanaf 07:30 lig is, en ons met veiligheid kan uitgaan. Die res van die wêreld wat al die pad geloop het, erken die negatiewe emosionele gevolge van kajuitkoors. Ek aanvaar dat sy as ’n medikus daarvan weet.

4. Die aandklokreël. Hoekom is dit nodig? Wat word daardeur bereik? Verduidelik asseblief, Wyngaard, dalk het jy insae ter verdediging daarvan.

5. Alle voedingsbydraes soos kospakkies, ens. wat nou sentraal geregistreer moet word. Hoekom? Nog ’n poging tot totale beheer van die bevolking. As dit so toegepas word, stop ek dadelik my maandelikse skenkings aan twee sulke instansies wat goed werk en waar niks gesteel word nie.

Miskien lê die antwoord in Wyngaard se boodskap dat ons wat Ramaphosa “so opgehemel het, dalk nie so opreg was as wat ons voorgee nie” deur die wyse wat ons op die regering se koronabesluite reageer.

Ek wil dan net graag weet waar die reëls die beste nagekom word, soos dra van maskers, afstand behou, nie kospakkies steel en onwettige drank verbruik by straatpartytjies nie.

Meer oor:  Vryheid Van Spraak  |  Stellenbosch  |  Mystem  |  Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.