Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Maties se taalbeleid kom al dekades aan

Ek wil graag aansluit by dr. Bernard Ficker se standpunt rondom Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US), naamlik dat as niemand iets gaan doen nie, gaan Afrikaans sneuwel (01.06).

Ongelukkig kan die euwels van die voorgestelde US-taalbeleid nie alleen voor die deur van die huidige rektor gegooi word nie. Dit is iets wat al oor dekades onder opeenvolgende US-topbesture (rektorate) aankom. Die probleem nou is dat geen rektoraat ná 1994, weens politieke druk, dit ooit sou waag om enige standpunte oor die behoud van Afrikaans as ’n onderrigmedium uit te spreek nie. Aangesien hierdie rektorate deur die raad en senaat aangestel word, is daar vele gesiene Afrikaners wat direk en indire vir die verval van die Afrikaanse taal en kultuur aan die US  aandadig gehou kan word.

'n Vorige rektor beweer openlik hy was deur die raad en senaat aangestel om die skip om te draai (daar kan maar net gegis word oor wat bedoel is met die opdrag). Die huidige rektor is maar net die hoof-begrafnisondernemer wat die laaste spykers in die kis kap. Die oorsprong van die wanorde rondom die voorgestelde taalbeleid kan na die stormagtige dae van anti-apartheid teruggevoer word. Die impak van die internasionale akademiese boikotte en sanksies in die 1980’s het op verskeie gebiede ’n beduidende impak aan die US meegebring.

Die eerste saadjies van verengelsing is al toentertyd gesaai. Enige US-dosent sou destyds sy voortande wou gee om met vrymoedigheid tog net ’n oorsese kongres te kon bywoon en/of in ’n internasionale akademiese tydskrif te kon publiseer, in Engels natuurlik. Die situasie het nie net ’n negatiewe klimaat aan die US teenoor die apartheidsregering van die dag teweegebring nie, maar ook onbewustelik antagonisme teenoor Afrikaans per se geskep.

Hierdie navorsingsknelpunte het natuurlik ná 1994 verdwyn en kan vandag nie as ’n rede vir die afskaal van Afrikaans as onderrigmedium aangevoer word nie. Tragies genoeg word die stryd rondom die uitfasering van Afrikaans met die meegaande verengelsing aan die US vandag onder die dekmantel van sogenaamde akademiese uitnemendheid en internasionale akkreditasie -jargon voortgesit. Engels, met die behoud van Afrikaans as onderrigmedium, is al dekades lank sonder enige fanfare aan die US toegepas.

As ’n mede MBA-student van Ficker het ons al in die 1970’s, van alle plekke en tyd, op die Stellenbosch-kampus voltyds klas in Engels geloop. Dit is aangebied deur top- besoekende buitelandse professore wat geen woord Afrikaans kon besig nie en wat nieteenstaande die akademiese boikotte van die tyd tog hul weg oopgesien om hier te kom klasgee. Ons as nagraadse studente was al destyds glad nie gepla oor Engels op ’n sogenaamde Afrikaanse kampus nie.

Dit is insiggewend dat die rektoraat van daardie tyd so ’n dubbelmedium-kampus vir die bestuurswetenskappe – Afrikaans voorgraads en Engels nagraads – sou kon toelaat. Dit is jammer dat die rektorate oor tyd nooit verdere oorweging aan die moontlike uitbouing van so ’n dubbelmedium-kampus kon of wou gee nie.

• Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.

Meer oor:  Murray Pellissier  |  Stellenbosch  |  Taalbeleid  |  Afrikaans  |  Maties
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.