Hennie van Coller se rubriek “Mense is nie gemaak vir dié afsondering nie” (19.05) verwys.
Die inperking het oplaas getoon dat ’n geïsoleerde en geïndividualiseerde mens dit moeilik vind om te bestaan.
Een mens is altyd verbind aan ander mense en lewe altyd saam met ander. Verder is mense nie net materieel en fisies met mekaar verbind nie, maar ook deur emosionele bande.
Menslike gebondenheid en sosiale eenhede berus nie net op nuttigheidsoorwegings nie, maar word onderskraag deur bande van liefde en toegeneentheid.
Mense kan nóg fisies nóg geestelik anders lewe as binne maatskaplike verbande.
’n Mens sonder ander mense is ondenkbaar. ’n Mens geskei van andere is óf abnormaal óf diep ongelukkig.
In hierdie opsig vergelyk Vloemans (De mens als waagstuk) ’n menslike gemeenskap enersyds met ’n miershoop en andersyds met ’n byekorf: “Hier blijk de zamewerking van duur te zijn en zo noodzakelijk voor het levensbehoud, dat een volstrekt eenzaam leven van het individu tot een volslagen onmogelijkheid geworden is. De bij is pas bij in en door de korf, de mier in en door de hoop, de mens in en door de maatschappij waartoe hij behoort”.
In werklikheid is die korf, die miershoop en die mensegemeenskap organismes in ’n funksionele sin, al is die een ook van ’n ander en hoër orde.
Die individu kan alleen gelukkig voortbestaan danksy ingeslotenheid in die geheel, terwyl die geheel ook alleen net kan bestaan in en deur die individue waaruit die geheel saamgestel is. Inderdaad is die mens ’n sosiale wese om gelukkig en tevrede saam met ander te lewe – wesenlik is hy so saamgestel.