Dit is goed dat die ANC op ’n waardige manier van een van sy strydrosse, Andrew Mlangeni, afskeid geneem het.
Die feit dat ’n staatsbegrafnis gehou is, dra by tot die waardigheid van die persoon. Dit is dan ook korrek dat lede van ons Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in hul uniform die draers van die kis was. Daar word verwag van lede van die SANW om hierdie funksie as deel van hul plig te vervul.
Nou is my vraag, waar pas die MK-lede in hul uniforms in? Het MK skielik ’n onderafdeling van die SANW geword, of het hulle bloot geen respek vir die SANW-lede in hul uniform nie? Dit is boonop nie etiket om by ’n staatsbegrafnis op te daag in ’n ander uniform as dié wat deur die SANW uitgereik word nie. Die staat dra die koste van die begrafnis, wat beteken dat hy die reëls neerlê.
Dit sal goed wees as die ANC sy “gewapende vleuel” ’n bietjie op sy plek sit en die etiketreëls aan hom voorhou waar dit by só ’n aangeleentheid kom.