Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
MRK se optrede help nie harmonie skep

Kortliks gestel, behels die Menseregtekommissie (MRK) se mandaat die betrokkenheid by die bevordering en handhawing van menseregte soos verskans in die Grondwet.

MRK-lede se gedrag en uitlatings in die onlangse verlede laat my wonder of hulle dié mandaat nie verstaan nie en of hulle enigiets sal doen om relevansie aan die MRK te verleen.

Twee van die mees omstrede gevalle is die betrokkenheid by die skorsing van die Laerskool Schweizer-Reneke se Elana Barkhuizen en die oorhaastige mediaverklarings en sosiale­media-uitlatings wat betref die Eben Etzebeth-voorval.

Anders as om, soos behoorlike regsgeleerdes, die belangrikste reël van natuurlike geregtigheid – audi alteram partem (luister na albei partye) – na te kom, is Elana en Eben onmiddellik veroordeel. Die enigste resultate van dié optrede was negatief in die vorm van rassistiese sosialemedia-storms, onrus en wantroue. Later is aangetoon die MRK se vooroordele in albei gevalle was ongegrond.

Die derde onlangse geval wat my dwars in die krop steek, is die MRK-afvaardiging se besoek aan die terrein waar Enock Mpianzi verdrink het.

Hierdie tragedie skok enige ouer tot in sy siel. Elkeen van ons wie se kinders van tyd tot tyd op skooluitstappies gaan, sal dié gebeure herroep wanneer ons die kinders voor ’n uitstappie groet.

My vraag is net watter van die MRK se mandaatbepalings is uitgevoer toe hulle soos wafferse superhelde oor private eiendom se heinings geklouter het in die aangesig van die media? Van wanneer af het die MRK meer magte wat betref die skending van privaatheid as die polisie?

Watter positiewe doel het hierdie emosionele mediasirkus in die nakoming van die MRK se mandaat gehad?

Die mandaat vir die ondersoek na die voorval rus vierkant op die skouers van die polisie, soos in die geval van enige onnatuurlike dood.

As gekyk word na die mandaat van die MRK, sou ’n mens verwag dat hy sou optree om rasseharmonie in die uiters kwesbare Suid-Afrika te kweek.

Maar pleks van om in sy arsenaal te delf vir wapens van toenadering, bewusmaking en die skep van harmonie, gryp hy na wapens van aggressie, verdagmaking en verdeling.

Ek bid dat leiers in hul geledere sal opstaan en die regte wapens sal opneem om al die inwoners van ons pragtige land nader aan mekaar te bring.

Meer oor:  Lesersbrief  |  Mrk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.