Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
MyStem-wenner: ‘Meer dankbaarheid, minder kla’

Kla ons nie net omdat dit gewoonte geword het nie? Waardeer ons ons gesondheid? vra Marie du Plooy van Langenhovenpark, Bloemfontein, in haar MyStem-wenbydrae. 

Marie du Plooy, wat vir haar R1 000 in die sak geskryf het met haar MyStem-wenbydrae.

In die wagkamer van die opleidingshospitaal sit ek saam met hulle: kreupeles, in rolstoele, met kieries, selfs op trollies. Kromrug van osteoporose, haarloos weens kankerbehandeling, geskend in ongelukke.

Ek kan hier nie anders as om my seëninge te tel en hartlik dankbaar en lief vir my lyf te voel nie. My gebed is meteens: “Ek dank U vir my heel liggaam, liewe Heer. Vir my arms, bene en goeie sig.”

Ek besef ons kla so maklik. As dit nie te warm is nie, is dit te koud. As die wind waai of dit reën (of dit reën nie) is dit klagte op klagte. Wat die prysstygings nie al opgevreet het nie, sal inflasie en hoër rentekoerse voor sorg!

Soms verkeer ’n mens onder die indruk dat omstandighede jou geluk bepaal. Maar al verkondig die koerantopskrifte “Brandstofpryse styg weer” of “Rand val nog verder” en al kan ek en jy nie veel aan die klimaatstoestande en stygende kospryse doen nie, kan elkeen van ons wel op ’n manier ’n verskil maak aan ons eie en ander se lewe.

Die lewe is baie keer wat ons daarvan maak!

Wees dankbaar jy het wel ’n salaris wat styg, al is dit ook net met 1%. Wees positief en maak planne. Sien uitdagings raak. Dit inspireer! Nie net jouself nie, ook ander.

Onmoontlik? Nee, Langenhoven het nie verniet geskryf nie: “Die man wat al die dae lekker kos het, eet nooit lekker nie.”

Kla ons nie sommer net omdat dit al gewoonte geword het nie? Waardeer ons ons liggame en gesondheid?

Vasberadenheid en om altyd die beste van ’n situasie te maak, kan positiewe eggo’s uitstuur wat die negatiewes help nek omdraai.

Dis eintlik soveel makliker om in situasies te soek na wat goed en bruikbaar is. Dan begin elke dag vol positiewe moontlikhede en môre word ’n dag om na uit te sien!

* Stuur jou mening na MyStem@netwerk24.com en hê 'n kans om, soos Marie du Plooy, R1000 te wen!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.