Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
MyStem-wenner: Moedertaal in die spieël

In sy MyStem-wenbydrae probeer Jaco Louw, ’n student aan die Universiteit Stellenbosch, hom indink in die vrees, ongemak, en vreemdheid van iemand wat sy lewe lank onderrig in ’n vreemde taal moes kry. 

Jaco Louw, ’n derdejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch en vandag se MyStem-wenner.

Ek staan voor die spieël en maak my mond oop. Die Afrikaanse woorde klink grof, tog is dit my taal, my woorde en die manier waarop ek myself kan uitdruk.

Ek probeer die Xhosa-woorde uitspreek. “Molo unjani ... Ndiphilile.” Dit proe snaaks, anders, vreemd – ek sukkel om die gemak daarin te vind wat ek in Afrikaans het.

Ek dink terug aan ’n syfer wat ek êrens gelees het: 80% van Suid-Afrikaners kry nie onderrig in hul moedertaal nie.

Ek probeer my die vrees, ongemak, en vreemdheid indink waardeur al daardie kinders en studente moet gaan om onderrig in ’n ander taal te kry. Ek probeer my hoërskoolloopbaan indink in ’n vreemde taal. Ek probeer Heidegger in die oorspronklike Duits lees, maar Dasein, syn-moontlik en syn-tot-die-dood maak nie sin soos in Afrikaans nie.

Ek probeer my vriende, die omgewing, my boeke, myself in ’n vreemde taal indink, maar ek sukkel om te begryp wie ek is sonder my taal. Die onreg wat deur die krake van ons demokrasie bloei waar soveel mense steeds deur ’n taal teruggehou word. Twintig jaar ná apartheid en steeds hierdie skeiding tussen bevoorreg en arm.

Ek probeer myself in ’n vreemde taal indink, waar ek moet lees en praat in woorde wat nie vanself kom nie.

Ek dink aan die 80% wat vandag nog moet sukkel in ’n vreemde taal, terwyl ek my lewe lank myself kon wees in mý taal. Dis onreg.

Ek staan voor die spieël en praat Afrikaans, die taal waarin ek myself kan uitleef, en dink aan die talle kinders wat in ’n klas sit en wiskunde in ’n taal moet verstaan wat vir hulle soos Grieks klink.

Wat kan ek doen? Wat kan ek doen om die lewe te verbeter vir iemand wat ek nie verstaan nie?

Ek praat in Afrikaans oor ’n saak wat nie gehoor word deur dié wat dit moet hoor nie.

*Stuur jou mening na MyStem@netwerk24.com en staan ’n kans om, soos Jaco Louw, R1 000 te wen! Lees hier meer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.