Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
'n Bokram ruik nie lekker nie

Ek geniet altyd Johan van Wyk se “Van Alle Kante”, dalk  omdat ek ook ‘n groot liefde het vir die Karoo waaroor hy met soveel smaak skryf.

In ‘n onlangse VAK het hy oor die ou kragopwekkers in die Karoo vertel. In my verbeelding kon ek toe weer die musiek van die ou 6-perdekrag-Lister op Quaggasfontein in die Sutherland-distrik herleef. Ek verwys nou na die storie van Koos Knelpoort (02.06) en die moframme, wat my aan my eie ondervinding herinner het.

Dit was in die omgewing van 1975 toe ons op ‘n baie gereelde basis naweke uit Kaapstad by my skoonouers op Quaggasfontein gaan kuier het. Om die kuiertyd te rek, het ons Vrydae ná werk die 350km aangepak en dan Sondae eers 4-5uur se kant weer die terugtog begin. Aangesien ons getroue ou Peugeot 404 ook nie oor lugreëling beskik het nie, was die reis deur die warm Tankwa-Karoo dan ook al meer draaglik.

Die betrokke middag, só ‘n entjie onderkant die Verlatekloofpas, vang my oog ‘n bok wat ‘n entjie van die pad aan ‘n grensdraad hang. Met die oorspring is sy een agterklou tussen die stywe staaldrade bokant die jakkalsproef vasgevang. Kop omlaag het die mooi sterk, jong ram  my baie verleë aangestaar, maar selfs op ‘n afstand kon ek al die parfuum van sy geel voorbene ruik. 

‘n Bok bly ‘n bliksem, maar in die ongenaakbare Tankwa sou die ou ‘n wrede dood sterf as hy daar moes bly hang. Daar was geen kans dat ek die stywe drade sou kon oopdwing om die klou te bevry nie. My enigste plan was dat die ram moes terug oor die heining na die kamp waaruit hy wou ontsnap. 
Vies-vies het ek probeer om met so min as moontlik kontak die bok terug te gooi, maar op die ou einde het hy met byna sy volle gewig bo-op my gelê, met daai onwelriekende lyf styf teen my nek. Wonder bo wonder het ek daarin geslaag om hom oor te lig. Mank en lyfseer, maar baie dankbaar het die ou stadig weggestap.

Ek was nogal trots op my reddingsdaad, maar my plaasmeisie het natuurlik van beter geweet. Deur die hele petalje het sy soos ‘n bidspringkaan in die kar bly sit, terwyl ek alleen met die stink bok moes worstel. Toe ek inklim was alle ruite reeds oopgedraai en sy het sover moontlik van my gesit.
Tuis, ná ‘n paar keer se bad en stort, het sy dit weer naby my gewaag, maar die Peugeot se egte skaapveloortreksels het in die slag gebly.

Ek kon nie soos Koos Knelpoort ‘n Fairlane 500 gaan koop nie, maar vele ruikweerders, stukke steenkool en vanielje-essens is gebruik om die ergste reuk te verdryf.    

Meer oor:  Johan Van Staden  |  Parow  |  Mystem  |  Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.