Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
’n Persoonlike blik op die Covid-19-pandemie

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging van ’n streng inperking om die koronavirus hok te slaan, het aanvanklik nie ’n noemenswaardige reaksie veroorsaak nie. Maar namate die dae weke geword het en die weke maande, het die verwoestende uitwerking van die onsigbare vyand­ duidelik geword.

Hier in die aftreeoord heers afsondering met hoofletters. Alle­ etes word in bakkies by die kamers afgelewer. By gebrek aan gesellige samesyn met maaltye in die eetsaal het menige inwoner vlae van neerslagtigheid ervaar.

Boonop het die virus die eerste sterfgeval veroorsaak. Mense met rooigehuilde oë was ’n algemene gesig. Almal was angstig om na die nuus te luister, wat geensins bemoedigend was nie. Die aantal mense wat positief getoets is en die dodetal het daagliks toegeneem.

Ouers met kleuters was hande in die hare. Kinders kon nie skool bywoon nie en sommige moes sonder die broodnodige maaltyd per dag klaarkom. Dit het aan die lig gekom dat armoede en gebrek aan kos veral in informele woonbuurtes onrusbarend toegeneem het. Weldoeners soos Gift of the Givers het inderhaas kospakkies berei, sopkombuise is ingerig en rugbyspelers het gehelp om kos af te lewer.

Hotelle, restaurante, ondernemings, haarsalonne en boere moes werknemers aflê en werkloosheid het toegeneem. Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn moes afgestel word, wat menige kunstenaar sonder inkomste gelaat het. Verder het die ondenkbare gebeur: Die Olimpiese Spele in Japan, die Twee Oseane-padwedloop en die Comrades het in die slag gebly.

Met afgryse het ons gehoor dat misdadigers die situasie uitbuit. Brande is gestig, mense ontvoer, gemartel en vermoor. Plaasmoorde en veediefstal het toegeneem. Verkragting en mishandeling van vroue en kinders is aan die orde van die dag.

Nadat nog twee mense in die oord positief getoets is, moes ons vir twee uur in die tuin wag terwyl ons kamers ontsmet word. Ons kon eers terugkeer na ons kamers nadat ons koors gemeet is.

Ten tyde van die inperking het ek gewonder wat ek kan leer uit die ramp wat die hele wêreld getref het. Opnuut het ek my dierbare kinders waardeer wat gereeld naweke deur tralies saam met my kom koffie drink en gekuier het.

Toe het ek my na die bron van alle wysheid gewend: my Bybel. Dit is baie duidelik dat die persoon wat sy toekoms in ons huidige wêreld sien, bedroë daarvan gaan afkom. Het die digter nie gesê: “Die wêreld is nie ons woning nie.”?

In Matteus lees ek: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid.” Ek het besluit om meer as ooit met my He­melse Vader te praat. Angus Buchan sê tereg ook: “God has no office hours.”

Ek begin die mense om my raak te sien en ervaar hoe ’n vriendelike woordjie en ’n koekie of twee ’n moedelose gesig laat ophelder.

Die Bybel sê ook dat ons vir diegene in bestuursposte moet bid sodat ons in vrede kan leef. Daagliks bid ek vir Ramaphosa en sy kabinet dat hulle maniere kan vind om die korrupsie uit te roei.

Meer oor:  Mystem  |  Covid-19-Pandemie  |  Briewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.