Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
’n Republikeinse party is wat Suid-Afrika nou kort

Die kommunisme wat Charles Smith in “Soen jou regte koebaai, Poetin en KGB is hier” (20.10) skilder, is inderdaad donker en ongelukkig naby aan die werklikheid.

Ons daaglikse realiteit is een van uiterste politieke eiebelang, swart nasionalisme, institusionele rassisme, ongeregtigheid en misdadigheid.

Die redelike, opgevoede man op straat, soos dr. Werner Emslie, is ontneem van werklike politieke mag en blootgestel aan wrede geweld deur die irrasionele proletariaat., net soos Dokter Zhivago in 1917.

Om dit uit ons gebruiklike tweekantige perspektiewe van links en regs, demokraties of ondemokraties, sosialisties of kapitalisties en reg en verkeerd te benader, is te eng en ’n mens beland intellektueel heeltyd in doodloopstrate waar frustrasie ’n mens se denke oorheers en geweld as die enigste redelike oplossing oorweeg word.

’n Alternatiewe benadering is om politiek in die vorm van ’n kontinuum te konseptualiseer en dit kom van niemand anders nie as Albert Einstein:

“Politics is a pendulum whose swings between anarchy and ­tyranny are fuelled by perpet­ually rejuvenated illusions.”

Die pendulum-gedagte skep ’n magdom opsies oor hoe om weg te kom van uiterstes en ’n gematigde maar doeltreffende middelgrond te skep.

Die geskiedenis het al meer as een keer gewys die meganisme waarmee ekstreme regerings tot halt geroep en teruggebring word tot ’n politieke realiteit waar die land en sy toekoms ­hoër geag word as individuele vryheid, die reg gebalanseerd toegepas word en nie op grond van ras of politieke affiliasie nie en ekonomiese rykdom verband hou met persoonlike prestasie en nie ekonomiese korrupsie nie, is die republikeinse moraal.

Dit is die meganisme wat die Amerikaanse publiek in die vorm van die Republikeinse Party gebruik wanneer nodig en wat patriotiese, gematig kon­serwatiewe leiers, soos Ronald Reagan en Donald Trump, opgelewer het om die VSA weg te ruk van die rampspoedige gevolge van emosiegedrewe liberalisme. Margaret Thatcher het met dieselfde aanslag Brittanje in die 1970’s ideologies opgehef en sodoende uit die greep van so­sialisme en vakbonde bevry.

En dit is nie onbekend aan Suid-Afrika nie. Dit is by verstek die meganisme waarmee hy homself los gestoei het uit die onderdrukkende greep van Britse imperialisme en in 1960 ’n republiek verklaar het.

In bogenoemde gevalle het doemprofete groot moeilikheid voorspel, maar die resultaat was uiteindelik stabiliteit en geweldige ekonomiese voorspoed (die VSA groei tans vinniger as in enige sta­dium in sy geskiedenis).

Daarby het dit niks met ras te doen nie (dr. Martin Luther King was ’n Republikein) en dit is internasionaal ’n edel en aanvaarbare politieke strategie.

Ek sien nie ’n ander beter pad om nou te loop nie.

Indien veral die Afrikaner enige hoop aan die lewe wil hou om ooit weer ’n invloedryke rol in die politiek te speel of selfs weer aan die bewind te kom, is dit die perd wat hy moet opsaal.

’n Skip kan nie oornag sy posisie verander nie, maar hy kan oornag sy rigting verander, en ons kan die politieke rigting in Suid-Afrika verander deur ’n Republikeinse party op die been te bring wat Suid-Afrika kan wegdraai van die kontinuum uiterste in Smith se artikel. Ons kan dit bykans oornag doen, en maklik voor Desember 2017.

Meer oor:  Charles Smith  |  Brief  |  Lesers Sê  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.