Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Net een ding bly altyd dieselfde in krisistyd

Ek word oorval met inligting, te veel om eens te kan memoriseer. Tog steek sekere goed vas in my kop.

“Grootste krisis sedert die Tweede Wêreldoorlog,” lui opskrifte. Tydelike hospitale word opgerig, groot wit tente waarin desperate siekes gehuisves moet word . . . Sosiale media deel foto’s van verlate historiese gedenkwaardighede. Meteens lyk bekende landmerke verlate en dié plekke op aarde waarvan toeriste net nie genoeg kan kry nie, spookagtig vreemd.

Ons eie bekende omgewing is stil. Ek sien my bure nou vlugtig vir die eerste keer in sewe dae. Ek skrik selfs gister vir my eie weerkaatsing buite op die ruit . . . Eers voel ek baie verleë, maar toe besef ek hoe vreemd ’n ander beweging buite reeds geword het.

Ja, die mens is aanpasbaar. Jong mense en studente verklaar hoe dankbaar hulle is om op Suid-Afrikaanse bodem te wees. Ná 51 dae in China op slot, 14 dae in een van ons land se oorde en dan huis toe – waar hul weer beperk is. Maar vir hulle is gesondheid die grootste gawe. Geen isolasie in hul ouerhuise of by familie kan nou meer erg wees nie!

En so is dit met ons. Vanaf my balkon het ek ’n gedeeltelike uitsig oor twee besige paaie – een ’n snelweg in die verte. Skielik is dit nie so belangrik om iewers heen te ry nie . . . werk toe, winkel toe, agter kinders se aktiwiteite aan, aandbyeenkomste, uiteet saans saam met vriende.

Want eintlik het ons dit nie so nodig nie. Ons kan nou daarsonder.

Oorlogtye was ook so.

Ek onthou vertellings van my oupas, wat weer deur my ouers aan ons oorvertel is toe ons ouer was om te verstaan. Skaarstes – goed wat doodeenvoudig nie bekombaar was in oorlogstye nie, maar waarsonder mense geleer het om klaar te kom. Die uitbreking van die Spaanse Griep, waarin my ouma aan moederskant haar eerste man en ’n kind aan die dood moes afstaan. My ouers onthou veel later die uitbreking van polio toe hulle op hoërskool was. Hulle mag nie enige oefeninge gedoen het of selfs kerk toe geloop het soos wat die gewoonte op kosskool was nie.

Daar is niks nuuts onder die son nie. Al wat verander het, is die manier waarop daar gekommunikeer word oor 2020 se epidemie en ekonomiese chaos. TV, spotprente, memes, videogrepe, aanlyn nuusdienste en alles wat mens via die internet kan kry.

Van idiotiese grappies op jou selfoon (wat jy nodig het om nie te morbied te raak nie), ernstige waarskuwings (moenie alles glo nie), tot waardevolle inligting en kos vir die siel.

Wat my bring by ’n laaste gedagte. Wat altyd dieselfde is, is die mens se geloof in en hoop op God. Mag dit ons ook hierdeur dra.

Meer oor:  Mystem  |  Inperking  |  Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.