Prof. Marlene Verhoef sê die Noordwes-Universiteit (NWU) volg ’n beleid van meertaligheid en Solidariteit bring die publiek onder ’n wanindruk (18.03).
Die praktyk lyk heel anders.
Tot nou is baie gedoen om klasse op die Potchefstroom-kampus in Afrikaans aan te bied (vir die meerderheid Afrikaanssprekende studente) en dit na Engels te tolk. Vergaderings is tweetalig gehou of getolk. Kennisgewings en vorms was tweetalig beskikbaar.
Feitlik oornag is oorgeskakel na eentalige vorms, dikwels eentalige kennisgewings en word vergaderings slegs in Engels gehou, selfs al is die meerderheid of ’n beduidende deel van die deelnemers Afrikaanssprekend.
Die onlangse alumnivergadering is gekonfronteer met uitsluitlik Engelse dokumentasie. Dosente word aangestel wat op voorgraadse vlak klas moet gee en nie Afrikaans magtig is nie, sodat daar druk op studente geplaas word om klas in Engels te loop of vraestelle in Engels te beantwoord.
Die praktyk maak die NWU se taalbeleid en -beloftes uiters verdag. Ons het rede om baie bekommerd te wees oor veeltaligheid aan die NWU.