Nóg ’n verslag van die openbare beskermer (OB) lê aan flarde.
Die hooggeregshof het in Maandag se uitspraak haar gebrekkige kennis van wetsuitleg, die toepassing van basiese regsbeginsels, blatante vooroordeel en ignorering van die inhoud van meerdere verklarings van kardinale belang wat onder eed afgelê is, met vers en kapittel uitgelig.
Dit wat gelei het tot ’n ongeloofwaardige en verwerplike verslag wat sy uitgereik het.
Dit wat haar onbevoegdheid vir die taak haar opgelê tot op die been oopgevlek het.
Sodanig dat ’n persoonlike kostebevel (hoogstens 15%), wat nie ligtelik uitgereik word nie, haar vir die hoeveelste keer opgelê is.
So strompel die kwelsieke “beskermer” van die een hofnederlaag na ’n ander terwyl die oorbelaste belastingbetaler vir die hofkoste, waarvan sý die enigste oorsaak is, moet opdok en, wat vir Jan Publiek voorkom, daar gedraal word om die nodige ingestel te kry om haar summier te verwyder.
Want bedank uit eie beweging, dit sal sy nimmer.