Die koerante maak ’n mens deesdae so moeg vir Covid-19-berigte en -briewe as wat hulle seker vir ons pensioenstories is.
Ou mense wat 12 maande vir hul pensioen wag en van die honger sterf, is nie nuus nie.
Dat baie swart is en meestal skaars leefbare pensioentjies uiteindelik sal ontvang, is ook nie nuus nie. Wat tannie Poppie met die kopdoek, die “Grootbaas van die Bevelsraad” met die huilstemmetjie van rokers dink . . . ja, dit is nuus, want dit is verwant aan Covid-19.
Ek is seker as ons oues met ons rolstoele, looprame en kierietjies na die parlement en Uniegebou opruk, sal dit ook nie nuus wees nie – totdat die magtige bevelsraad van tannie Poppie bedreig voel en hulle ons met skerp ammunisie, waterkanonne, skokgranate en stinkbomme aanval omdat ons ’n gevaar is.
Dink net hoe doeltreffend sal die polisie, weermag en spietkops lyk as hulle hierdie nuwe gevaar en spoedvrate in hul rolstoele uiteen jaag en hokslaan.
Dink net aan al die medaljes vir dapperheid! Skielik sal die vervolgingsgesag en howe doeltreffend werk om hierdie nuwe bedreiging die hoof te bied. Dít behoort groot nuus te wees.