Leopold Scholtz se uitstekende Sake van die Dag (06.03) verdien kommentaar.
Tydens die laat 1980’s en die tyd voor 1994 was ek sydelings gemoeid met die ou Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) se militêre intelligensiediens (MI), en ek het as burgermagkapelaan selfs ’n projek of twee vir hom gehanteer.
Ek het heelwat gesprekke met belangrike offisiere in die MI in daardie tyd gehad, onder andere genl. Tienie Groenewald. Ek het ook ’n geheime voorligting deur dr. Niël Barnard, destydse hoof van die nasionale intelligensiediens (NI), bygewoon en agterna met hom gesels.
Die mense by die MI was wel deeglik bewus van die aspekte wat Scholtz noem en memorandums in hierdie verband is meermale aan FW de Klerk voorgelê.
PW Botha het hom voorheen deeglik aan hierdie soort inligting gesteur, maar ongelukkig het De Klerk ’n taamlik groot wantroue ten opsigte van die SAW gekoester – vandaar sy ongemotiveerde ontslag van ’n aantal generaals en die ontbinding van 32 Bataljon.
Indien De Klerk meer aandag aan die inligting en waarskuwings van die MI gegee het, sou die onderhandelinge met die ANC sekerlik anders verloop het.