Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Ons verhouding is nie meer dieselfde
Piet Matipa

Woensdag sal ek en my twintigs agt jaar saam wees.

Ek wil nie ’n doemprofeet wees nie, maar ná vanjaar gee ek ons verhouding hoogstens een jaar.

Dinge tussen ons is nie meer dieselfde nie. Agt jaar is lank. Ek voel hoe ons verder uitmekaar dryf.

Ons prioriteite het verander. My twintigs wil nog jol en wild wees en ek is reg om rustig te raak.

Die eerste keer toe ek agtergekom het dat dinge tussen ons stagneer en terugrol, was net ná ons sesde herdenking.

Dit is moeilik vir my om hieroor te praat. Sy oë het toe begin dwaal. Gevis vir iets jonger en opwindend. Ek was nie meer vars genoeg nie.

My twintigs het my daarvan beskuldig dat ek “boring” is. Toe wys ek hom daarop dat hy sy taal minder moet meng. Waarop hy reageer het: Presies my punt.

Ons het ook ’n uitval gehad oor my kleredrag.

Hy meen dat swart my kaal laat lyk “en nie op ’n goeie manier nie”.

Hy mis blykbaar my groen, geel en oranje broeke wat ek gedra het. Hy meen dat swart my kaal laat lyk “en nie op ’n goeie manier nie”.

Sy woorde was soos ’n klap op die bors, my hart het gebrand.

Die beledigings het aanhou vlieg soos rugbyballe en hy weet ek kan nie goed vang nie.

Volgens hom het ek ook ’n boep begin kry.

Hy wou dit nie sê nie, maar dit pla hom: “Het ek dan opgegee?” Hy kan sien ek probeer dit wegsteek deur my maag in te trek wanneer my hemp oplig, hy is egter nie geflous nie. Hy ken elke rol op my lyf.

Ek het gesnak na my asem van die skok. Toe hy dit sien vra hy: “Sukkel jy om asem te haal, oups?”

Hier het my bloed begin kook: Dom donkie, het ek gegil. Hy het begin lag, en gesê dat dit skaars ’n belediging was. Ek sou in die verlede soos ’n man gevloek het en nie soos ’n tannie nie.

In ’n stadium van die geveg was ek na aan trane.

My twintigs het sy arm om my gesit en “sorry” gesê. Beduie dat hy nie lelik wil wees nie, maar hy mis die ou Piet.

Twintigs: “Ons gaan nie meer uit nie, babe. Ons kyk series op ’n Vrydagaand. Ons het altyd gedans tot die son opkom.”

Toe herinner ek hom dat toe ons net ontmoet het, was ek nie so “wild” soos in my middel twintigs nie.

Ek was ’n soet seun, hy ook. Ons was eenvoudiger as nou.

Ons het eerder gaan braai as klubs toe gegaan.

Ons het nie rondgevry nie, ons was mekaar s’n. Ons het kerk toe gegaan. Wanneer laas was ons by die kerk? Ons kuier Saterdag so hard dat ons Sondag nie kan beweeg nie.

My twintigs het sy hand oor my gesig gestreel en gesê hy is ongelukkig nie gereed om saam met my oud te word nie. Ek verstaan.

Toe begin ons weer stry oor ons agste herdenking.

Hy wil partytjie, ek wil slaap. Ek gee dié verhouding nog net een jaar, die vet weet.

Meer oor:  Verjaarsdag  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.