Sarel van der Walt se verslag (27.09) oor pres. Cyril Ramaphosa se uitlatings tydens sy samesprekings by die VN laat ‘n mens moedeloos. Ek is van mening dat daar nog steeds ‘n groot gaping is tussen dit wat Ramaphosa (en sy ANC) in die politiek as reg of verkeerd beskou teenoor wat baie
Afrikaners as reg of verkeerd beskou.
Ramaphosa ontken dat plaasmoorde en grondgrype bestaan in teenstelling met verslae van sy eie polisiediens. Hy voer aan dat die grondhervormingsproses ingevolge die reg sal geskied. Is dit soos die reg nou sê of soos die reg sal lyk nadat sy party dit gewysig het om hulle siening te pas?
Hy voer aan dat pres. Donald Trump van Amerika verkeerd ingelig is. Vir ons lyk dit of Ramaphosa verkeerd ingelig is, of dat hy besig is om die VN én die wêreld onder ‘n vals indruk te bring.
Hy wil skynbaar ook “die foute van die verlede”, toe groot dele van Suid-Afrika oor honderde jare deur blankes beset is, regstel. Kundiges in hierdie veld wys egter daarop dat die besetting van grond deur witmense – veral Afrikaners - wettig en regmatig geskied het. Waar dit nie die geval was nie, is die fout(e) reeds herstel. Wat wil Ramaphosa nou regstel? Of is dit steeds ‘n kwessie van “ons” en “hulle?”
Hy sou baie meer bereik het as hy erken het dat sy regering groot probleme met kundigheid het om die ekonomie weer aan die gang te kry, infrastruktuur te skep en in stand te hou en werkloosheid te bekamp. As hy hierdie staatsmanskap aan die dag gelê het, sal hy baie meer vermag.