Izak Bergh, Marchand, skryf:
Die regering se alte slim en koppige besluitnemers wat dikwels wetenskaplikes geïgnoreer het wat in die ministeriële Covid-19-advieskomitee gedien het, het die land baie gekos. Die ekonomie sal moeilik herstel van die knou wat dit toegedien is tydens die inperkings.
Van die kenners in die komitee wat die deur gewys is, waarsku nou teen die herinstelling van ’n streng inperking. Hulle kom met feite soos dat trop-immuniteit reeds ver ontwikkel het en dat inperkings die virus nêrens gestuit het nie.
Maar sal die regering luister? As ’n mens hul enorme flaters deur die jare en tydens die virustyd oorweeg, moet daar groot twyfel by jou wees.
Laat ons hoop dat gesonde verstand ’n slag sal seëvier en dat hulle sal luister en begryp wat hulle hoor.
Theo Stehle, Knysna, skryf:
Hardnekkige gerugte dat die regering ’n tweede streng inperking beoog wil net nie wyk nie. My ontleding van statistieke dui daarop dat die regering besig is met wanvoorstellings van die virus-statistieke om die publiek te mislei.
Buiten 'n effense oplewing in die Port Elizabeth-omgewing, is daar sedertdien steeds geen opwaartse neiging in die nasionale statistieke wat die uitsprake van sekere regeringsleiers ondersteun nie.
Die president gaan binnekort weer 'n aankondiging maak oor die stand van die virus en die moontlikheid van verskerpte maatreëls is nie uitgesluit nie. Dit is onrusbarend dat daar nou weer verwagtings geskep word vir die nodigheid van strenger inperkings.
In teenstelling met Europa, is ons bevolking jonk en maak die hoërisikogroep ’n geringe persentasie uit van die totaal.
Dit lyk egter of die regering hierdie feit doelbewus miskyk.