Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Resensies van boek bied breë perspektief

Francois Bekker, Pretoria, skryf: Die feit dat Rapport se boekeredakteur nog ’n resensie van Petrovna Metelerkamp se biografie Jeanne Goosen: ’n Lewe vol sinne geplaas het, moet verwelkom word. Die gevolg is dat drie swaargewig-resensente die boek bespreek het wat die voornemende leser in staat stel om ’n ingeligte besluit te neem. Joan Hambidge (in Beeld) en Herman Lategan (in Rapport van 10 Mei) reageer positief, maar Daniel Hugo vel ’n ander oordeel.

Almal gaan nie saamstem nie en daarmee is geen fout te vind nie.

Tog voel ek genope om my opinie oor Metelerkamp se boek te deel. Ek het dit ’n hoogs toeganklike werk gevind sonder akademiese pretensie. Meer nog, ’n Lewe vol sinne slaag daarin om een van ons letterkunde se kleurvolste skrywers se lewe op te teken op ’n manier wat getrou is aan die aard van die persoon.

Hier en daar ’n traan, meermaal bulderende lag, deurgaans ’n bevestiging van Goosen as aweregs, ’n rara avis in die ware sin van die woord.

Hugo vergelyk die Goosen-boek met Metelerkamp se biografie oor Ingrid Jonker (’n meesterlike biografie, inderdaad) en vra wat met die Goosen-biografie verkeerd gegaan het. Myns insiens kan die twee boeke, oftewel onderwerpe, nie met mekaar vergelyk word nie. Goosen is nie Jonker, oor wie baie meer inligting beskikbaar is nie.

Op die keper beskou bly die persona Jeanne Goosen nog altyd ontwykend en misterieus. Metelerkamp se biografie bied ’n hoogs onderhoudende blik op ’n baie interessante skrywer.

Riana skryf per e-pos: By die lees van Daniel Hugo se resensie kry ek die gevoel dat hy ’n persoonlike vendetta teen die skrywer het.

Sy gevoel dat die boek in aller yl saamgeflans is, maak ’n bespotting van die jaar se navorsing en werk aan die boek.

Terloops, hierdie biografie is nie ’n akademiese boek nie, anders sou die skrywer die 30-bladsy-bibliografie wat sy het, ingesluit het. Die boek is reeds 314 bladsye lank. As sy alles waarmee Hugo ’n probleem het ingesluit het, sou dit onbekostigbaar en oninteressant gewees het.

Izel Lutz, Milnerton, skryf: Hoe heerlik was dit nie om ’n boekmaat te hê wat jou nie wou los nie en vir wie jy ook nie vaarwel wil sê nie!

Hugo is dalk reg dat Metelerkamp se biografie van Ingrid Jonker – wat bronne en verwysings betref – veel gewigtiger is, maar my vraag is: Pas Jeanne Goosen: ’n Lewe vol sinne nie juis perfek by die mens wat die biografie beskryf nie?

’n Streng akademiese biografie sou Jeanne vermom het.

Die styl, die lees tussen die reëls, die diepte wat van Jeanne ontdek word as ’n vry-, diepdenkende individu, ’n toekomsgerigte mens, maak juis hierdie toeganklike biografie een wat mens bybly en waarmee jyself in gesprek tree.

Meer oor:  Petrovna Metelerkamp  |  Daniel Hugo  |  Briewe  |  Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.