Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Rybewyse: Ek vrees hertoets, gespot

Ek het pas my rybewys hernu, maar moes daarvoor na die buurdorp Parys gaan.

In Potchefstroom, glo ek, is daar vandeesmaand geen rybewys uitgereik nie. Ons staan van sonop tou voor die lisensiekantoor, om dan later ingelig te word die oogtoetsers daag nie op nie of die stelsel is van lyn af. Ek stem saam met al die lesers en briefskrywers dat elke vyf jaar se beoogde hertoets nie kan realiseer nie.

Anders as die meeste beswaardes, vrees ek eintlik die hertoets. Ek het in 1963 my rybewys vir ekstra swaar voertuie met ’n kantelvragmotor verwerf.

Op die betrokke plattelandse dorp het die dorp se hoof- en enigste verkeersbeampte, bekend as Johnny Spietkop, my verseker dat ek ’n goeie bestuurder is en het hy daar en dan my rybewys geskryf en aan my oorhandig.

Dit was nadat ek om die dorp se stadsaal met die kantelvragmotor gery het.

Daar was nie sprake van ’n leerlingrybewys of enige vrae wat aan my gestel is nie. Oom Johnny het my wel ’n paar bestuurswenke gegee.

Om nou hertoets te word, gaan ’n neukery afgee. Ek het laas in 1974 in Rhodesië in die Grensoorlog vragmotors bestuur. Ek sal dus nou maar gaan vir ’n ligtevoertuigrybewys.

Of ek deesdae se toets, K53, gaan slaag, is ’n ander storie. Ek glo ek sal dié eksamen deurkom, maar die prakties is nie sommer ’n hierjy nie.

Soos wat ek verstaan van die jong mense wat gereeld die toets dop, moet jy soveel keer waarneem, jou greep op die stuurwiel en wisseling van hande geskied volgens ’n voorgeskrewe program, asook die gelyktydige of afwisselende trap van die koppelaar en rem.

Ek bestempel myself steeds as ’n goeie bestuurder en ek gehoorsaam die padreëls en -wette.

My grootste bate is die besef van my beperkings, waarvan die hertoets maar net een is.

Of ek my kinders se gespot gaan oorleef nadat ek die toets gedop het, lê ook soos ’n berg voor my.

Meer oor:  Rybewys  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.