Oor Pietie Traut se brief teen skuilname (12.01):
Dit was vir my nog altyd onduidelik waarom skuilname vir sekere mense onaanvaarbaar is. Die uitruil van menings in ’n briewekolom gaan immers oor die argument en nié die mens agter die argument nie.
Watter duistere motiewe skuil agter die feit dat sekere mense altyd wil weet wie die mens is wat ’n bepaalde standpunt ingeneem het?
Speel die bal, nie die man nie.
Vir mense in sekere beroepe is dit moeilik om onder hul eie naam te skryf. Sommige word selfs deur werkgewers en beroepsliggame sterk afgeraai.
Onderwysers is slegs een voorbeeld. Dink aan die reaksie van sekere ouers indien hul kind se onderwyser ’n politieke of godsdienstige standpunt in die koerant verkondig wat met hul siening bots.
Beteken dit nou dat professionele mense soos onderwysers gedoem is om nooit hul opinie in ’n briewekolom te mag gee nie?
Dieselfde geld sake- en professionele beroepe waar mense bevrees is dat hulle sake kan verloor oor ’n kwessie wat niks met hul onderneming of beroep te doen het nie.
Nog ’n rede vir skuilname: Dit is nie vreemd dat familie en selfs kinders van mense wat standpunte onder hul naam lug soms beledigende oproepe of diskriminasie (onder meer by die skool) ervaar nie. As skuilnaamskrywers as onder meer “lafhartig” beskou word, kan jy jou indink tot watter ander, erger beledigings sulke mense oor die telefoon in staat is. Vra my.
Ek kry dikwels die indruk sommige mense dink werklik dit is ’n prestasie om ’n brief onder hul naam in die briewekolom geplaas te kry. Dit is nie juis uniek nie.
Ek wil daarom juis pleit dat mense wat bang is vir diskriminasie – veral teenoor hul gesinne of weens hul beroepe – die vrymoedigheid moet hê om wel hul standpunt te stel.
’n Groter poel menings is tot almal se voordeel.