Kort voor die begin van die feestyd het die Nasionale Dierebeskermingsvereniging weer op televisie ’n beroep op mense gedoen om nie hul troeteldiere te versaak nie.
Ek het geweet hierdie versoek sou op dowe ore val.
Ek en my vrou het met deernis na die honde in hul hokke op televisie gekyk.
My vrou sê toe dat mens amper nie in hul smekende oë wil kyk nie.
Die honde lê by die hokke se hekkies en wag – hartverskeurend . . .
Dit is juis hieroor dat mense met ’n goeie hart te veel katte en honde aanhou. Hulle kan nie die diere net aan die genade oorlaat nie.
Ek pleit by diere-eienaars: Ons leef in ’n pandemie, pas julself op. Maar meer nog, kyk na jul diere.
In dié negatiewe tyd en heel dikwels donker dae is hulle ons anker.
Hulle help dat ons by ons positiewe bly en fokus op liefde en omgee en nie op ’n gemaskerde wêreld daar buite wat ons met vrees vervul nie.